Toerismevloei: Oplewing kan volg ná inentings
Altesaam 71% van gaste by verblyfplekke in Februarie was Namibiërs teenoor slegs 17% Europeërs, volgens die Gasvryheidsvereniging van Namibië.
Francoise Steynberg – Die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) is oortuig die suksesvolle implementering van nasionale en internasionale inentingsplanne teen Covid-19 kan toerismevloei wêreldwyd weer laat normaliseer.
Volgens die uitvoerende hoof van HAN, me. Gitta Paetzold, het verskeie lugrederye en diensverskaffers aangedui inentingspaspoorte kan in die toekoms vir reis vereis word.
“Die reis- en toerismesektor is dus al hoe meer afhanklik van die inentingsprogram en namens HAN wens ons die Namibiese regering en sy mense sukses toe met die implementering van dié plan,” het Paetzold gesê.
HAN het sy verblyfbesettingsyfers vir Januarie en Februarie vanjaar verskaf en vergelyk met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar voor Covid-19 “wat nog as normale maande in toerisme geag kan word” voor die internasionale reisverbod in Maart ingestel is.
“Dis 'n jaar later en HAN kan berig daar is wel 'n vlak van kamerbesetting by verskeie verblyfplekke oraloor die land. Namibië se toerismebedryf het effe herstel met slegs beperkte reisbeperkings en oop grense vir beide landsgrensposte en lughawens,” het Paetzold gesê.
“Die gasvryheidsektor kan sake doen ondanks die verminderde omvang en handelsure, maar volgens statistiek is toerisme steeds laag as dit met vorige jare vergelyk word.”
Paetzold sê in Februarie het verblyfplekke Namibiërs aangemoedig om tydens die reënseisoen te reis om die natuurskoon van vol riviere en damme te sien. Die gemiddelde kamerbesetting was in Februarie 20,1%, wat minder as die helfte van besetting teenoor Februarie 2020 was.
“Die meerderheid van gaste by verblyfplekke vanjaar was Namibiërs (71%) wat dit teen spesiale tariewe en pryse besoek het. In Februarie 2020 was Namibiërs slegs 32% van al die gaste wat verblyfplekke besoek het,” lui HAN se verslag.
“Besoekers van die hele Europa het slegs 17% van gaste by verblyfplekke in Februarie vanjaar uitgemaak teenoor verlede jaar se 48%.”
Paetzold sê 'n opmerklike huiwering om te reis bestaan steeds, met reisbeperkings en -regulasies wat steeds internasionaal verander.
AFRIKA-LANDE
Sy sê wat reis binne Afrika betref, is daar onsekerheid oor reisregulasies en 'n gebrek aan geharmoniseerde veiligheids- en grensprotokol.
“In Februarie was 6% van besoekers aan Namibië uit ander Afrikalande, waar Afrikane in Februarie 2020 11% van besoekers by Namibiese verblyfplekke was,” sê Paetzold.
“Ondanks amptelike aankondigings en goeie bedoelings om landsgrensposte na buurlande vir streekreise oop te maak, het sommige van ons toeroperateurs erg weens toe grensposte gely, veral in die sleuteltoerismestreek van die Kavango-Zambezi-oorgrensgebied (Kaza).”
Paetzold sê daar is 'n dringende behoefte dat hierdie kwessies op bilaterale vlak met owerhede van buurlande bespreek moet word.
“Vir die herlewingsinisiatief van die Namibiese toerismebedryf om suksesvol te wees, is 'n universele benadering tot reis- en veiligheidsprotokol nodig.
“Die toerismebedryf doen 'n beroep op besluitnemers en rolspelers om op die pad vorentoe met hul internasionale en streek-eweknieë saam te werk vir verenigde, internasionale reisregulasies,” meen Paetzold.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie