Toeriste-graffiti gou verwyder
Internasionale koerante het berig oor die toeriste wat glo graffiti aan geskiedkundige geboue in Namibië aangebring het.
Tanja Bause
Die graffiti op geboue en padtekens wat vier toeriste na wat verneem word in veral die Suide van Namibië onlangs agtergelaat het, sal binnekort verwyder word.
Die vier vermeende booswigte – drie Franse burgers en een Kanadees – het in Februarie deur Namibië gereis en onder meer die geskiedkundige Garub-treinstasie buite Aus glo met graffiti beverf.
Mnr. Nrupesh Soni, 'n Namibiër, het 'n veldtog in die sosiale media van stapel gestuur om die mans op te spoor en te identifiseer, asook om die graffiti te verwyder.
“Ons is vinnig om te kla oor die regering. Ons moet net opstaan en iets doen,” sê hy.
“Die ondersteuning wat ons gekry het van mense en besighede wat wil help om die gemors skoon te maak, is baie groot. Ons het verf van NEO Paints gekry, professionele mense het hul hulp aangebied om die geboue te herstel, en Wild Dog Safaris Namibia sal die verf en ander materiale vir ons Suide toe vervoer.
“Tourism Supporting Conservation (Tosco) het aangebied om borde wat baie oud is en nie herstel kan word nie te vervang. Wie sê ons kan nie ons eie probleme oplos nie?” sê hy.
Volgens Soni het Namibiërs in die sosiale media duidelik gemaak sulke gedrag word nie geduld nie.
Verskeie koerante in Lyon, in Frankryk, waar van die mans glo woon, asook koerante in die Verenigde Koninkryk en in Montreal in Kanada, het oor die voorval berig.
Twee koerante in Frankryk het berig die betrokkenes het reeds miljoene euro se skade in Frankryk met hul graffiti aangerig.
“As daar enige nuwe graffiti met hul name in Frankryk verskyn, kan hulle nou in hegtenis geneem word omdat hulle geïdentifiseer is. Die man van Montreal in Kanada word ook in verband met ander misdade gesoek. Ons het sy prokureur gekontak om 'n saak teen hom te maak,” sê Soni.
Volgens 'n berig in La Presse, 'n aanlyn koerant in Montreal, het die man wat in Montreal woon reeds twee klagte van vandalisering of saakbeskadiging teen hom.
“Volgens hom was hy deel van die groep, maar het hy slegs foto's met sy hommeltuig geneem. Hy hou sy vriende vir die vandalisme verantwoordelik,” lui die berig.
Die mans, wat 'n video van hul vermeende graffiti-tog gemaak het, het hul sosialemediarekeninge verwyder – oënskynlik ná Namibiërs druk op hulle uitgeoefen het.
Die hommeltuigvideo toon boonop dele van die Etosha Nasionale Park en Kaap Kruis en hoe diere verwilderd vlug.
Dít het Namibiërs woedend gemaak.
Volgens die koerant Ouest-France werk die drie Franse burgers saam en het hulle in 2016 reeds met die gereg gebots.
Hulle het glo treine, treinstasies en brûe in die Auvergne-Rhône-Alpes met graffiti beverf.
“Nie net is die mans in hul eie lande geïdentifiseer nie, maar ook hul ondernemings en die besighede waarmee hulle sake doen. Namibiërs het boodskappe per WhatsApp, Facebook en e-pos aan die besighede en die mans gestuur waarin duidelik gemaak word hulle en hul gedrag is nie welkom in Namibië nie,” sê Soni.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie