Toeriste in ongeluk

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Helikopter van die Namibiese polisie se lugvleuel moes Sondag ingespan word om 'n beseerde Australiese toeris, me. Mary Wilkinson (66), vanaf Helmeringhausen na Windhoek te vlieg wat in 'n ongeluk in 'n landreisvoertuig ("overlander") saam met ander toeriste buite die Suidedorp was.

Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die /Kharasstreek, adj.komm. Christen Mubebo, het die ongeluk met die landreisvoertuig van Chameleon Safaris Sondag ná 09:00 sowat 10 km van Helmeringhausen op die pad vanaf Maltahöhe plaasgevind. Die voertuig was van Klein Aus Vista na die Namib-Naukluft Park onderweg. Mubebo sê daar was tien insittendes in die voertuig en almal het ligte beserings opgedoen, behalwe een passasier wat is ernstig beseer is.

Al die passasiers is Australiese burgers en die bestuurder is 'n Suid-Afrikaner, wat snye aan sy kop opgedoen het. Hy het meer as 20 jaar ervaring as reisgids.

"Toe die bestuurder van die voertuig oor 'n brug gery het, het hy 'n harde slag gehoor. Die wiele het vasgeslaan en die voertuig het na die linkerkant geswaai waarna dit die pad verlaat, omgeslaan en op die sy te lande gekom het," het Mubebo aan Republikein gesê.

Die bevelvoerder van die Namibiese polisie se lugvleuel, komm. Flip Blaauw, het gister aan Republikein bevestig dat hy deur EMed Rescue versoek is om die beseerde passasier op Helmeringhausen met die polisiehelikopter te gaan haal en na Windhoek te vlieg. "Ek het die beseerde vrou op Helmeringhausen in Bethanie se ambulans gekry en die polisie van Bethanie was ook op die toneel. Sy was reeds gestabiliseer, haar hand toegedraai en ek het haar na die Eros-lughawe in Windhoek gevlieg waar die ambulans reeds gewag het om haar hospitaal toe te neem," het Blaauw gesê.

Volgens mnr. Bossie Coetzer, mede-eienaar van die Namibiese toermaatskappy Chameleon Safaris, het hy Sondag ná 09:00 van die ongeluk gehoor en dadelik vir EMed Rescue gekontak en die polisiehelikopter aangevra om vir Wilkinson na Windhoek te vlieg. "Sy is na Mediclinic in Windhoek geneem waar die ortopeed, dr. Cobus Moolman, haar erg beseerde hand geopereer het waartydens haar hand geheg en penne ingesit is. Haar hand het tydens die ongeluk onder die voertuig beland en moes uitgegrawe word," het Coetzer verduidelik. Volgens hom gaan dit goed met Wilkinson en sy kan reeds haar vingers beweeg. "Drie ander beseerde mans - een met 'n elmboog wat uit potjie was en snye op sy ander arm, en twee met ligte kopbeserings - is ook Sondagaand met EMed Rescue na Windhoek gevlieg waar hulle behandeling in Mediclinic ontvang het," het Coetzer gesê.

Chameleon Safaris het Sondag nóg voertuie na Helmeringhausen gestuur om die passasiers na Keetmanshoop te neem waar hulle mediese behandeling gekry en in 'n gastehuis oornag het. Hulle sou volgens Coetzer gistermiddag na Windhoek terugkeer. Coetzer prys die personeel van Mediclinic "wat baie moeite gedoen het en baie professioneel is".

Die bestuurder van Helmeringhausen Hotel, me. Katja Basler, sê die passasiers het vanaf 09:30 tot 17:00 Sondag by die hotel gesit. Sy het gesê die polisie en ambulanspersoneel van Bethanie was baie professioneel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!