Toeriste spoel stroomaf in voertuig
Tanja Bause – Minstens nege voertuie is in vyf dae deur verskillende riviere in die suide van Namibië en in Windhoek meegesleur.
Niemand is tydens die voorvalle beseer nie.
Twee Duitse toeriste is Saterdag deur ’n sytak van die Guribrivier weggespoel toe die gehuurde Toyota Fortuner waarin hulle gereis het, meegesleur is.
Die egpaar Jeanette en Michael Nöth het die vorige aand by die Alte Kalköfen Lodge van Frikkie en Hilde Mouton naby Keetmanshoop oorgebly en wou Saterdagoggend hul reis na die Fish River Lodge voortsit.
“Ons het so teen 11:30 in die pad geval en veilig deur die eerste water gery. By die rivier het ons gewik en geweeg of ons moet deurry.
“Ek het die 4x4 aangesit en ons het begin ry. Omtrent halfpad deur die rivier het dinge skielik verkeerd begin loop en die voertuig het nie meer vastrap op die pad gehad nie en ons is meegesleur.”
Hulle het gehoop die voertuig sal aan wal spoel, wat egter nie gebeur het nie.
“Daar was ’n klompie bome wat ons ook nie gekeer het nie en uiteindelik het ons teen ’n sandwal vasgespoel. Die water het bly styg en toe ons op die sandbank tot stilstand gekom het, het ons in water gesit. Gelukkig het my vrou vroeër die venters oopgemaak, omdat dit nie later moontlik sou wees nie met die elektronika wat nat was.”
Michael het vir sy vrou gesê om die rugsak met paspoorte en geld in te gryp en by die venster uit te klim om te sien of sy by droë grond kan uitkom sonder dat die stroom haar meesleur.
Sy het heupdiepte met die rugsak bo haar kop deur die water tot aan wal geloop.
“Ek het toe die sak met die rekenaar en die kamera in gevat en ook wal toe geloop. Ek is weer terug na die voertuig om ons tasse uit te haal, maar die agterdeur wou nie oopmaak nie en die water het teen dié tyd al by die venster ingeloop soos die riviervlak gestyg het.”
Van die wal af het hulle aanskou hoe die sokkerballe wat hulle vir die kinders saamgebring het en ander los bagasie deur die venster weggespoel word.
Die Moutons het hulle gaan soek en op die voertuig afgekom wat sowat 150 meter meegesleur is. Die man en vrou het van die ander kant af om hulp geskree omdat die watervlak steeds gestyg het.
“Ons het vir hulle gesê hulle moet van die wal af wegstap pad toe. Hul motor was teen daardie tyd heeltemal onder water,” het Hilde gesê.
Die Nöth-egpaar het na die pad geloop waar Frikkie hulle omstreeks 13:30 opgelaai het.
“Alles was onder water. Ons het seker 20 kere kniediep, heuphoogte of dieper deur water geloop om by die pad uit te kom.”
Sondag om 09:00 het Europcar ’n nuwe voertuig by die lodge afgelewer. Rassie’s Tow-in van Keetmanshoop, met die hulp van Frikkie se voertuig en werkers van die lodge, kon eers Maandag die Fortuner verwyder.
“Ons kon Maandag die voertuig uithaal en ook hul bagasie. Ons het die hele Maandag modderklere gewas sodat hulle hul toer kon hervat,” het Hilde gesê.
Die toeriste moes hul besoek aan die Visrivier-canyon en Lüderitz afstel en is nou op pad na die Kanaan Desert Retreat.
“Ons gaan Sossusvlei toe, dan Swakopmund, Damaraland en Etosha voordat ons op 4 Februarie terugvlieg Duitsland toe.”
“Ons kom beslis volgende jaar met ’n klomp vriende terug om my 60ste verjaardag op 29 Junie by die Alte Kalköfen Lodge te vier, want gaste het vriende geword. Ek kan net my lof vir alle Namibiërs uitspreek; van hoe behulpsaam hulle was van ’n tandeborsel wat ons gekry het, tot die mense wat die voertuig uit die rivier gehaal het en Europcar wat so vinnig vir ons ’n nuwe voertuig gegee het sodat ons kan aangaan. Almal was ongelooflik,” het Michael gesê.
Hilde vertel dat Jeanette Sondag met groot afwagting by die rivier gestaan en na die voertuig gekyk het.
“’n Silwer hangertjie met haar oorlede ma se duimafdruk was in hul tasse in die voertuig se kattebak en sy was bang dit het weggespoel. Groot was die vreugde toe sy die hangertjie Maandag teruggekry het.”
NOG VOERTUIE
Die voorval naby Keetmanshoop volg nadat die gehuurde voertuig van twee Amerikaanse vroue vier dae tevore op die C-12 tussen Seeheim en Grünau ook deur die Löwenrivier meegesleur is.
Hul voertuig het in die droë rivierloop vasgeval en Gershwin Walters van Southern Tow-in van Keetmanshoop – wat hulle wou help – se bakkie is ook meegesleur toe die rivier skielik teen ’n vinnige spoed afgekom het.
Drie voertuie is verlede Woensdag deur die Elisenheimrivier in Windhoek weggespoel, terwyl die Tsauchab- en die Tsondabrivier in die Suide Vrydag ook drie voertuie meegesleur het.
– [email protected]
FOTO’s
Die Fortuner is Saterdag deur ’n rivier meegesleur. Foto verskaf
Werkers van Rassie’s Tow-in en die Alte Kalköfen lodge kon eers Maandag die voertuig uit die rivier haal.
Frikkie en Hilde Mouton saam met Jeanette en Michael Nöth.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie