Toeristegetalle styg in 2021
Toeristegetalle styg in 2021

Toeristegetalle styg in 2021

'n Land se inentingskoers gaan 'n noodsaaklike rol speel in die herstel van reis, reisigersvertroue en die posisie van die land as 'n veilige toerismebestemming.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die aantal toeriste wat Namibië verlede jaar besoek het, het met 37,1% teenoor dié van 2020 gestyg.

Verlede jaar het 'n totaal van 233 692 toeriste by 15 aktiewe grensposte aangemeld. Statistiek vir 2021 wys die meeste toeriste (43,7%) het die land by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako binnegekom, gevolg deur Ariamsvlei (15,1%), Noordoewer (13,1%), Trans-Kalahari (10,5%) en Rooikop met 6,4%.

Volgens die elektroniese grensbestuurstelsel is 354 508 aankomstes uit die buiteland in 2021 aangeteken. Die syfer is 84,61% meer as in 2020.

Per maand het toeristebesoeke meer as verdubbel – van net 11 203 in Januarie tot 28 755 in Desember.

Die statistieke is bekend gemaak tydens die toerismebedryf se veldtog om die inentingskoers teen Covid-19 in die land 'n hupstoot te gee.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het gemaan die jongste inentingsyfers is “baie ver agter wat ons as land nodig het om die pandemie te beheer”.

Teen 17 Januarie het 413 876 mense 'n eerste dosis entstof ontvang; 23,3% van die teikenbevolking van 1,7 miljoen. Die aanvanklike bevolkingsteiken was 1,5 miljoen, maar is aangepas om kinders 12 tot 18 jaar in te sluit. 'n Totaal van 351 690 mense of 19,8% van die teikenbevolking was op die datum ten volle ingeënt.

Volgens Nangombe het hospitaliserings en sterftes tydens die vierde golf van die pandemie opnuut toegeneem; vernaam onder ouer volwassenes en mense met onderliggende toestande soos diabetes, hoë bloeddruk en MIV en wat nie ingeënt is nie.

Die uitvoerende hoof van die Namibiese Toerismeraad, mnr. Digu //Naobeb, het gesê 'n land se inentingskoers gaan 'n noodsaaklike rol speel in die herstel van reis, reisigersvertroue en die posisie van die land as 'n veilige toerismebestemming.

Hy het verwys na sommige operateurs wat reeds vereis dat al hul personeel en kliënte ten volle ingeënt moet wees. “Sommige ingeënte reisigers wil die versekering hê dat elkeen met wie hulle tydens hul reis in aanraking kom, ook ingeënt is,” het Naobeb gesê.

Selfs al maak Namibië inentings nooit verpligtend en vereis van toeriste om ten volle ingeënt te wees om die land te besoek nie, sê //Naobeb dit is hoogs waarskynlik dat die beleid van individuele toerismebesighede 'n belangrike oorweging in kliënte se reisbeplanning sal wees.

Volgens hom is dit “heeltemal redelik” om personeel aan te moedig om hulself te laat inent en kan dit as 'n verkoopspunt aan reisigers gebied word.

Volgens me. Netumbo V. Nashandi, voorsitter van Fenata, was die toptien toeristemarkte vir Namibië verlede jaar Suid-Afrika, Zimbabwe, Duitsland, Zambië, Botswana, Frankryk, Brittanje, Switserland en Rusland. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!