Toetsgat toon 'aktiewe petroleumstelsel'
Toetsgat toon 'aktiewe petroleumstelsel'

Toetsgat toon 'aktiewe petroleumstelsel'

Dit is bevestig: Daar is olie en gas in die Kavango-kom.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gister gesê “'n wonderlike tydperk” wag op die mense van Namibië noudat Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) se eerste toetsgat by Kawe op 'n aktiewe ­petroleumbron in die Kavango-kom dui.

ReconAfrica, 'n junior speler in die olie- en gasbedryf wat nog nooit voorheen 'n oliebron ontgin het nie, sê in 'n verklaring olie en gas is in drie monsters gevind.

“Die sleutelkaraktertrekke van die vloeistowwe ondersteun 'n aktiewe petroleumstelsel met veelvoudige bron-intervalle,” sê die maatskappy.

'n Internasionale storm het vroeër onder veral omgewingsaktiviste losgebars oor die plan om olie te ontgin in die noordoostelike deel van Kavango en die aangrensende noordwestelike deel van Botswana, wat aan die Okavango-delta, 'n wêrelderfenisgebied, grens.

Volgens ReconAfrica is olie en gas in drie intervalle in die stapeling van bronrots en reservoirs gevind.

Dr. Dan Jarvie, petroleum-chemikus en lid van ReconAfrica se adviesraad, sê hierdie aanvanklike resultate wys “die komponente en prosesse vir 'n werkende petroleumstelsel is teenwoordig”.

Die data sal verder ontleed word deur van die voorste maatskappye in die oliebedryf soos Core Laboratories in Houston, Texas; GeoMark Research, ook van Houston en Netherland Sewell & Associates van Dallas in Texas.

ReconAfrca sê die stratigrafiese ondersoek by die eerste toetsgat is nou afgehandel en hy gaan nou 16 km noord 'n toetsgat sink en monsters vir ontleding onttrek. 'n Derde gat sal ook geboor word.

Alweendo sê hierdie vonds is “'n beduidende ontwikkeling vir Namibië se aanlandige eksplorasie-pogings”.

“Die positiewe resultate van die toetsgat het ons van kritieke inligting voorsien vir die ontsluiting van die land se petroleumvooruitsigte,” sê hy en voeg by Namibië kan nou bevestig hy het 'n aktiewe, aanlandige petroleumkom.



DIEP BEKOMMERD

Die Environmental Investigating Agency (EIA) het intussen verlede week gesê hy is “diep bekommerd” oor die feit dat die regerings van Namibië en Botswana 'n soektog na olie en gas in die opvangsgebied van die ­Okavango-delta, een van die rykste ekostelsels op aarde, toelaat.

Netwerk24 berig die EIA het verlede Donderdag in 'n verklaring gesê die twee lande behoort die Kanadese maatskappy wat besig is met die soektog na die fossielbrandstowwe in hierdie sensitiewe ekostelsel te vra om dit onmiddellik te staak.

Me. Rachel Mackenna van die EIA sê terwyl die wêreld stadig maar seker sy rug op fossielbrandstowwe draai in 'n poging om te voorkom dat die aarde verder oorverhit, is ReconAfrica besig met 'n soektog na olie en gas.

[email protected]


FOTO
ReconAfrica se eerste toetsgat by Kawe suid van Rundu. Foto Frank Steffen

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer