Toetsrugby was nie Steyn se doelwit

Rugby
Cobus Claassen – Toe Morné Steyn twee jaar gelede besluit het om terug te keer na Suid-Afrika en weer vir die Bulle te kom speel, was dit met die doelwit om sy laaste twee, drie seisoene te geniet en sy loopbaan op ’n goeie noot af te sluit.
Ook het hy besluit om geen druk op homself te sit om weer vir die Springbokke te speel nie.
Dit sou in elk geval wensdenkery wees nadat hy in 2016 sy 66ste en laaste toets vir sy land gespeel het, het hy gedink.
Nou, met die Britse en Ierse Leeus amper op pad om die wêreldkampioen hier te kom aanvat, speel Steyn die tipe rugby wat hom in 2009 ’n Bok gemaak het.
Indien die 2021-weergawe nie selfs nou beter is nie.
“As dit gebeur, is dit ’n bonus. Daardie begeerte (om vir die Springbokke te speel) sal nooit vervaag solank as wat ’n ou speel nie.
“Dit is nie iets waaraan ek gedink het nie, want ek het in 2016 laas ’n toets gespeel.
“Om 12 jaar later weer teen die Leeus te speel, sal baie spesiaal wees,” sê die Bulle se skerpskutter.
Dit wil gedoen wees om op 36 (Steyn word op 11 Julie 37) die horlosie só terug te draai. Wat is die geheim?
“Ervaring speel ’n groot rol en my tyd in Frankryk het ook baie gehelp.
“My lyf voel nog goed en ek is baie geseënd dat ek nog nooit groot beserings gehad het nie. Ek het in my loopbaan nog nooit ’n knieoperasie of so iets gehad nie.
“Ek pas myself mooi op en hou daarvan om te strek.
“Dit help my ook nou dat ek op skool gimnastiek gedoen het.
“Ek kan nog byhou by die jong ouens en soos die lyf nou hou, kan ek dalk nog vier jaar speel. Jy weet nooit.”
Steyn het meer as ’n dekade gelede ’n sleutelrol gespeel in die Bulle-span wat die Superreeks drie keer in die bestek van vier seisoene gewen het.
Daar is weer ’n spesiale span in wording by Loftus Versfeld, sê hy.
“Ek dink daar is ’n goeie kombinasie van oud en jonk en daar is veral goeie jong spelers in die span.
“Iemand soos Elrigh Louw is 21, maar hy speel soos een van die senior spelers.
“Dieselfde met David Kriel, wat reeds ’n baie volwasse rugbyspeler is en volgens my beslis eendag vir die Bokke gaan speel.
“Die afrigtersgroep en spelers maak dit lekker om elke dag Loftus toe te kom en daar wag ’n blink toekoms op die Bulle.”
Indien die man wat die Leeus se hoop in 2009 op dramatiese wyse met ’n langafstand-strafdoel op Loftus verydel het, wel die Springbok-groep haal, sal hy alles in sy vermoë doen om die voorkeur-losskakel te wees, sê Steyn.
“Ek was nog altyd baie mededigend. Toe ek weer by die Bulle aangesluit het, was dit nie om op die bank te kom sit nie.
“Dit maak nie saak teen watter span of op watter vlak dit is nie, ek wil die beste losskakel op die veld wees.”
• Die Bulle en hul klereborg, Puma, het intussen dié span se nuwe wit truie bekendgestel waarmee daar in wegwedstryde gespeel sal word. – Netwerk24


FOTO’s
Morné Steyn het Saterdag ’n persoonlike bydrae van 19 punte gelewer toe die Bulle die Haaie met 43-9 in die Reënboogbeker-kompetisie geklop het. Foto Gallo Images

Duane Vermeulen, kaptein van die Bulle, met die nuwe wit trui waarmee die span in wegwedstryde sal speel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!