Tol op paaie styg tot 18

Augetto Graig
Vyftien mense het volgens die polisie in vanoggend se ongeluk noord van Okahandja omgekom.
Aanvanklik is 13 sterftes berig.
Die plek is bevestig as 14 kilometer buite Okahandja onderweg na Otjiwarongo.
Volgens die polisie se nasionale woordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, was die minibus-taxi onderweg na Okahao in die Omusatistreek. Sommige insittendes sou ‘n begrafnis bywoon en ander was op ‘n langnaweek-wegbreek.
Veertien persone het in die minibus doodgebrand en die bestuurder van die sedanvoertuig wat in die ongeluk betrokke was, het ook in die vlamme gesterf. Die bestuurder was die enigste insittende.
Dit bring die dodetol in die twee ongelukke waaroor vanoggend berig is op 18 te staan.


TUSSEN NAMWATER EN VYFRANDKAMP
Shikwambi het ook meer inligting oor die ander ongeluk, suid van Okahandja verstrek.
Die kop-teen-kop botsing het omstreeks 20:50 gisteraand plaasgevind.
Drie persone het in een van die voertuie gesterf en die 20-jarige manlike bestuurder het kopbeserings opgedoen. Die bestuurder van die ander motor is lig beseer.
Die oorledenes is geïdentifiseer as ‘n driejarige kind, Uvanga (geen verdere besonderhede), Engenesia Tjiptua (51) en die 25-jarige Petorua Tjiptua. Dit is onseker of die kleuter dalk die kind en kleinkind van die twee vroue is.
Hul naasbestaandes is reeds ingelig.
Die foto wys vanoggend se opruimwerk op die toneel van eersgenoemde ongeluk.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer