Tolliepryse skiet hoogte in
Veilingshuise meen die goeie pryse is daaraan te danke dat boere hul kuddes tydens die droogte moes verkoop, maar nou weer weiding het.
Elvira Hattingh - Veilingspryse vir tollies en verse bereik tans nuwe rekordhoogtes.
Die hoogste prys, naamlik N$47,37 per kg, is vandeesmaand by ’n Blaauwberg-veiling op Grootfontein daarvoor betaal.
Tydens dié veiling is die hoogste prys van N$45,50 per kg vir verse betaal, terwyl tollies onder 130 kg ’n gemiddeld van N$45,92 per kg gehaal het.
Verse ligter as 130 kg het ook ’n veiling-gemiddeld van N$45,50 per kg behaal.
Mnr. Piet Schrader, eienaar van Blaauwberg Auctioneers, sê afgesien daarvan dat hierdie eerste veiling in Januarie waarskynlik die duurste nog in Namibië kan wees, het die afgelope Woensdag se Grootfontein-veiling dié neiging gevolg.
Nie net was die aanbod op die veiling ’n reusegetal van 1 881 beeste sterk nie, maar was die hoogste prys vir tollies onder 130 kg sowat N$46,43 per kg, met ’n gemiddelde prys van N$42,23 wat vir hulle betaal is.
Die gemiddelde prys vir tollies tussen 130 kg en 200 kg was N$37,05.
Versies onder 130 kg se hoogste prys was N$39,11 per kg, terwyl gemiddeld N$37,72 vir hulle betaal is.
Schrader meen die rede vir die goeie pryse is dat talle plase goeie reën ontvang het en dié boere beeste wil hê.
“Hulle soek hul kalwers so klein as moontlik,” sê hy.
Schrader meen Suid-Afrikaanse voerkrale speel tans nie ’n rol in die goeie pryse nie, maar word deur die vraag onder plaaslike boere gedryf.
“Sou dit weer reën, en weiding verbeter verder, sal dié hoë pryse dalk gehandhaaf kan word,” het hy gesê.
Schrader sê hy glo nie dié pryse sal verder verhoog nie, omdat dit nie winsgewend is om die kalwers vir nóg duurder pryse te koop nie.
Mnr. Dolf Potgieter, ’n boer wat Woensdag se Blaauwberg-veiling bygewoon het, sê die sogenaamde “katkoppe”, of tollies onder 200 kg, is gewoonlik gewild op veilings – solank daar nie ’n heersende droogte is nie.
“Tydens die droogte is die einste katkoppe vir so min as N$19 per kg verkoop. Die rede hoekom hulle gewild is, is omdat hulle groot groeipotensiaal inhou en ons baie van hulle op ’n lorrie kan laai, wat met vervoerkoste help.
“Boonop moes baie boere tydens die droogte noodverkope doen. Noudat dit gereën het, kan hulle weer aankoop. Ook is dit volgende maand tyd dat boere belasting betaal en kan aankope help dat minder belasting betaal moet word,” sê hy.
Windhoek Livestock Auctioneers (WLA) se mede-eienaar, mnr. Johan Smith, sê hulle ervaar ook dat goeie pryse in die sentrale dele van die land tans vir katkoppe betaal word.
“Hulle is nou baie gewild, al het die suidelike sentrale dele van die land nog nie soveel reën gekry dat boere genoeg weiding het om bees aan te koop nie,” sê hy.
Die hoogste prys van N$41,06 per kg is op 14 Januarie op ’n Rehoboth-veiling betaal, met die veilingsgemiddeld vir tollies tot en met 130 kg ’n bedrag van N$38,91.
“Boere koop die katkoppe en probeer om hulle 100 kg te laat optel voor hulle weer ná vyf of ses maande verkoop word. Dis makliker en vinniger om geld met die jong kalwers te maak as wanneer jy byvoorbeeld koeie sou aankoop,” sê Smith.
Hy sê skraal koeie is tans ook gewild omdat waarde maklik by hulle toegevoeg kan word.
Smith sê hul veilingsaanbod is tans sowat 50% minder as vantevore, wat gedryf word deur die feit dat almal hier nog nie genoegsame reën ontvang het nie.
Agra se senior veilingsbestuurder, mnr. Carel Jordaan, sê op hul veilings word ook goeie pryse vir tollies betaal.
“Die gemiddelde prys vir tollies het sedert verlede jaar met sowat N$10 per kg gestyg,” het hy telefonies aan Republikein gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie