Tongaat Hulett verkoop sake in Namibië
Nellie Brand-Jonker
Die sukkelende suikergroep Tongaat Hulett gaan die verpakkingsonderneming in Namibië waarin hy 'n belang het, aan Bokomo verkoop as deel van sy planne om sy skuld te verminder.
Tongaat Hulett is midde-in 'n boekhouskandaal. Sy aandeleverhandeling op die JSE is in Junie op sy eie versoek opgeskort.
Die maatskappy het Maandagmiddag aangekondig hy het begin met die verkoop van belange wat nie deel van sy kernbedrywighede is nie ten einde sy skuld te verminder.
Dit is deel van 'n nuwe ooreenkoms wat met sy skuldeisers gesluit is.
Die maatskappy het 'n belang van 51% in Tongaat Hullett Namibië (THN).
THN het 'n ooreenkoms gesluit om sy hele verpakkings- en verspreidingsonderneming as 'n lopende saak aan Bokomo Namibië te verkoop teen nagenoeg R220 miljoen.
Die opbrengs sal gebruik word om die groep se skuld te verminder.
Bokomo Namibië behoort 50% aan Pioneer Foods. Die res word deur die Frans Indongo-groep van Namibië besit, luidens sy webtuiste.
“Hoewel THN 'n sterk en goed gevestigde onderneming in Namibië is, beskou die direksie van Tongaat dit nie as deel van die maatskappy se kernbedrywighede nie,” lui 'n verklaring.
“Die transaksie sal die Namibiese onderneming toelaat om in nuwe gebiede uit te brei en terselfdertyd aan Tongaat Hulett toegang gee tot die mark deur langtermynooreenkomste met Bokomo vir die verskaffing van suiker.”
Die ooreenkoms sal in werking tree wanneer die laaste voorwaardes nagekom is.
Dit sluit in dat die Namibiese Mededingingskommissie die transaksie goedkeur en 'n noulettendheidsondersoek deur Bokomo voltooi word.
Die Namibiese onderneming se nabelaste wins het in die jaar tot Maart R30,1 miljoen beloop.
Sy netto batewaarde was R37,1 miljoen teen die einde van die boekjaar.
Tongaat Hulett het Maandagmiddag ook aangekondig hy het 'n ooreenkoms met sy leners bereik om in plaas van 'n skuldstilstand nuwe leningsgeriewe en wentelkrediet aan hom beskikbaar te stel. Die nuwe lenings sal gebruik word om sy uitstaande skuld te herfinansier, asook vir sy bedryfskapitaalvereistes.
Die finansiers verwag dat Tongaat Hulett die skuld sal terugbetaal deur bates te verkoop of deur kapitaal in te samel met die uitreiking van aandele.
Tongaat Hulett sê wesenlike vordering word met sy omkeerplan gemaak. Daar is ses maande gelede daarmee afgeskop en die doel daarvan is om koste te verminder en sy kontantvloei te verbeter.
Forensiese bevindinge einde November bekend
Tongaat Hulett het ook Maandag in 'n verklaring gesê die belangrikste bevindinge van die forensiese ondersoek wat PwC na sy boeke gedoen het, sal na verwagting op Vrydag 29 November op sy webtuiste uitgereik word.
Die volledige verslag bly egter vertroulik en is aan regsprivilegie onderworpe.
Hy hoop ook om sy heraangegewe geouditeerde finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2018 en sy geouditeerde finansiële jaarstate vir die boekjaar tot einde Maart 2019 in die week van 9 Desember uit te reik.
Dit sal die maatskappy in staat stel om sy jaarvergadering op 24 Januarie te hou.
Dan Leseja Marokane is met onmiddellike ingang as uitvoerende direkteur van Tongaat Hulett aangestel. Hy sal as die herstruktureringsbeampte dien en sal ook vir beleggersverhoudinge verantwoordelik wees.
Maditshaba Mahlari het op 15 November as maatskappysekretaris bedank en verlaat die maatskappy einde Januarie.
Johann van Rooyen is as die nuwe maatskappysekretaris aangestel. Hy is 'n prokureur en het ondervinding in die doeltreffende funksionering van 'n direksie en sy komitees, korporatiewebeheerprosesse en nakoming.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie