Tonnel tussen Gasa, Israel 'vernietig'

Die weermag van Israel het 'n tonnel “vernietig” wat van Gasa af etlike meter tot in dié land se grondgebied gestrek het.

Dit is die vyfde tonnel wat dié weermag die afgelope vyf maande in onbruik gestel het, berig CNN.

“Dié tonnel is voltooi en was van hoë gehalte met 'n netwerk van tonnels wat van die noordelike deel van die Gasastrook af strek,” het lt.kol. Jonathan Conricus, weermagwoordvoerder, Sondag aan die media gesê.

Die weermag het Sondagoggend op Twitter bevestig dat hy op die tonnel van die “terreur­organisasie Hamas” naby die kibboets Nahal Oz in die suide van Israel afgekom het.

“Hierdie tonnel van terreur plaas honderde families van Israel se lewe ingevaar,” lui die twiet.

“Die roete van die tonnel is vroeg deur veiligheidsmagte uitgewys en gemonitor. In die laaste paar maande, veral die afgelope twee weke, het Hamas die gebied naby die grenshek in 'n plek van terreur en konflik omskep.”

Palestyne betoog sedert Maart by die grenshek tussen Gasa en Israel en probeer die grens oorsteek om terug te keer na grond wat glo aan hulle behoort.

Byna 1 000 betogers is Vrydag in Gasa beseer, grootliks weens skerppuntammunisie en traanrook wat deur soldate van Israel afgevuur is.

Volgens die weermag was die tonnel die “hoofslagaar”, wat met verskeie ander tonnels verbind is.

Dit is die laaste paar jaar gebou en deur die weermag dopgehou. Daar is eers besluit om dit te vernietig toe dit die grondgebied van Israel bereik het.

Conricus sê die tonnel is nie met plofstof vernietig nie, maar met 'n onbevestigde stof gevul wat dit “onbruikbaar vir 'n lang tydperk laat”.

Avigdor Liberman, Israel se minister van verdediging, het die vernietiging van die tonnel verwelkom en op Twitter gesê dit is die langste en diepste tonnel wat nog deur die weermag ontdek is.

“Die miljoene dollars wat vir die tonnel gebruik is kon eerder gebruik word om mense se lewe te verbeter en nou het die tonnel in die sand 'gesink',” sê hy. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!