Top-wu00eareldreuse kom vir beleggingskonferensie
Top-wu00eareldreuse kom vir beleggingskonferensie

Top-wêreldreuse kom vir beleggingskonferensie

Die konferensie word van Donderdag 25 Oktober tot Saterdag 27 Oktober by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg gehou.
Francois Williams - Minstens 27 van die 500 grootste maatskappye in die wêreld sal dié week die beleggingskonferensie in Johannesburg bywoon wat pres. Cyril Ramaphosa belê het.

Hulle verteenwoordig ’n markwaarde van meer as US$4 000 miljard en tel onder die 800 tot 1 000 afgevaardigdes wat verwag word van Suid-Afrika, asook 25 ander lande.

Airbus, Nestlé, Huawei, General Electric, Siemens, Mitsubishi en Johnson & Johnson is van die internasionale maatskappye wat daar sal wees.

Drie van China se top-vier-banke sal ook daar wees en buitelandse beleggers sal regstreeks met ministers kan skakel in ’n reeks bilaterale werksessies.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het Donderdag uitgestippel wat alles bereik wil word met die beleggingskonferensie wat van Donderdag 25 Oktober tot Saterdag 27 Oktober by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg gehou word.

PRAKTIESE WERKSESSIES

Dit gaan nie net ’n praatsessie wees nie, maar sowat 20 praktiese werksessies word beoog, met Ramaphosa wat op die openings- en afsluitingsgeleentheid sal praat.

Trudi Makhaya, ekonomiese adviseur in die presidensie, wou nie sê hoe die regering vorder met die teiken wat Ramaphosa gestel het om US$100 miljard se nuwe beleggings na Suid-Afrika te lok nie. Dit sal op die konferensie beter toegelig word, en sy sê sy wil dit aan Ramaphosa self oorlaat om hom op die konferensie daaroor uit te laat.

Die beleggingskonferensie spruit uit die beloftes wat Ramaphosa in sy staatsrede in Februarie gegee het om die ekonomie weer aan die groei te kry en meer beleggings na Suid-Afrika te lok.

Patel sê Ramaphosa het in die aanloop tot die beleggingskonferensie met sakelui en beleggers vergader, die Brics-beraad is gebruik as ’n geleentheid om beleggers en staatsinstellings van Brics-vennote aan Suid-Afrikaanse beleggingsgeleenthede bekend te stel, en ’n werkskeppingsberaad is gehou.

BEGIN VAN ’N REEKS

Die beleggingskonferensie word nie beskou as ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar sal die begin van ’n reeks wees. Die fokus is op praktiese werksessies waar geleenthede, reguleerders en beleggers bymekaargebring word, sê Patel.

Die Industrial Development Corporation, Invest SA en ander staatsagentskappe sal daar wees om beleggers te help om met die regte mense en instellings in verbinding te kom sodat hulle weet van al die beleggingsaansporings wat bestaan.

Die konferensie bied die geleentheid vir die regering en sakelui om probleme op te los wat keer dat beleggings vinniger vloei of wat bestaande bedrywighede belemmer, sê Patel.

JSE-MAATSKAPPYE

Groot JSE-maatskappye wat al geregistreer het om die konferensie by te woon, verteenwoordig sowat R6 500 miljard van die JSE se markwaarde. Bykans die hele fonds- en batebestuursbedryf sal verteenwoordig wees, en hulle het R7 700 miljard se bates onder bestuur.

Die beleggingskonferensie sal opgevolg word met ’n Afrika-wye byeenkoms om ’n geïntegreerde beleggingstrategie vir die vasteland uit te werk en intra-Afrika-handel te bevorder.

HOOGTEPUNTE

· Vrydag 26 Oktober sal ’n reeks beleggingsaankondigings gedoen word, met maatskappye wat sal aankondig wat hul planne is.

· Nege intensiewe en praktiese werksessies sal gehou word oor landbou en landbouverwerking; mynbou en minerale-waardetoevoeging; vervaardigingkundigheid; vervoerinfrastruktuur; energie; waterinfrastruktuur; toerisme, sakeprosesdienste en die rolprentbedryf; inligtings- en kommunikasietegnologie; en waagkapitaal en entrepreneurskap om kleiner rolspelers, veral onder die jeug en vroue en uit townships en landelike gebiede, te help.

· Saterdag 27 Oktober sal beleggers op ’n township-staptog langs Vilakazistraat in Soweto geneem word om hulle bekend te stel aan geleenthede vir plaaslike ondernemings en entrepreneurs.

· Jack Ma, stigter en uitvoerende voorsitter van die Chinese tegnologiereus Alibaba, sal Vrydagaand die gasspreker op ’n sake-dinee wees.

· Die Zimbabwiese entrepreneur Strive Masiyiwa, stigter van die tegnologiegroep Econet, sal ook ’n spreker wees. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!