Topfiguur van NNOK en NFA sterf op 62

Administrasie, sokker
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Met die afsterwe van mnr. Eliphas Shipanga (62), algemeen bekend op sy bynaam Oupapa, is 'n belangrike hoofstuk in die geskiedenis van sportadministrasie in Namibië vir ewig daarmee heen.

Dit was gister die woorde van mnr. Barry Rukoro, jarelange sekretaris-generaal van die Namibiese Sokkervereniging (NFA), oor die nuus dat een van sy voorgangers die vorige aand in die hospitaal vermoedelik aan 'n hartaanval oorlede is.

“Shipanga was in sy jong dae 'n puik sokkerspeler met veral 'n kragtige regtervoet, wat hom die bynaam Bazooka besorg het.

“Hy het vir Blue Waters gespeel en ook later vir Manzini Wanderers in Swaziland (nou Eswatini) terwyl hy daar gestudeer het.

“In my jare as sokkeradministrateur het ek gereeld mense van Eswatini teëgekom wat my uitgevra het hoe dit met Bazooka gaan.”

Volgens Rukoro het hyself in sy begindae as administrateur by die NFA as bestuurder van kompetisies betrokke geraak in die era toe Shipanga die sekretaris-generaal was.

“Tussen ons termyne was daar kortstondig een of twee ander mense in die amp, voordat ek as waarnemende SG van die NFA by Alpheus Gaweseb oorgeneem het,” sê Rukoro.

Hy beskryf Shipanga as 'n uitstekende kommunikeerder. “Afgesien van Oshiwambo as sy eerste taal, was hy ewe knap in Afrikaans, Engels, Herero en Damara-Nama.

“Sy heengaan ontneem ons van 'n magdom van institusionele geheue wat sportadministrasie betref. Dit neem 'n groot hap uit die land se sportgeskiedenis.”

Benewens sy betrokkenheid in sokker het Shipanga in die jare kort ná onafhanklikwording 'n hoofrol in die destydse Sportraad (die voorloper van die hedendaagse Sportkommissie) gespeel.

Saam met figure soos mnre. Elliott Hiskia, Callie Schafer en wyle Piet du Plooy is 'n toesighoudende oog oor die groei en ontwikkeling van sportkodes in die land gehou.

Shipanga het ook tot in November 2006 as sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) gedien. Hy was onder meer die missiehoof van die land se span na die 2004 Olimpiese Spele in Athene en het ook die 2006 Statebondspelespan na Melbourne vergesel.

In later jare (tot 2016) was hy die uitvoerende hoof van die Maltahöhe-dorpsraad.

Die NFA het gister Shipanga se “ontydige” afsterwe betreur.

“Hy word onthou as 'n ware dienaar van ons sport en was 'n briljante verteenwoordiger vir die land.

“Die Sokkervereniging is hom grootliks verskuldig vir sy onbaat­sugtige bydrae. Die NFA en die sokkergemeenskap dra ons diepste medelye en meegevoel oor aan die Shipanga-familie, Blue Waters sokkerklub en sy vriende.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!