Topkolwer Williams ná puik seisoen vereer

'n Eerste finaal in 'n Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie was 'n nuwe hoogtepunt vir die Namibiese span.
Andrew Poolman
Krieket Namibië het onlangs sy jaareindfunksie gehou waar Craig Williams as sy speler van die jaar vir die 2016-'17 seisoen vereer is.

Die 33-jarige veelsydige speler het 'n belangrike rol gespeel in die nasionale span se deurbraak om vir die eerste keer die finaal van die Suid-Afrikaanse provinsiale eendagkompetisie te haal.

Williams het in die driedagkompetisie 586 lopies in 14 kolfbeurte aangeteken (gemiddeld 48.83) met sy beste telling 152 nie uit nie teen die Boland.

Dié kolftelling in die Paarl is sy hoogste nóg in eersterangse krieket, in 'n beurt waarin hy 212 balle getrotseer het en 15 viere geslaan het.

In die eendagkompetisie was Williams ook 'n staatmaker met 324 lopies (gemiddeld 40.50) met sy hoogste telling 57. Hy was elfde op die algehele lys van lopiemakers, ná sy spanmaat Stephen Baard wat sy eendagseisoen in die derde plek afgesluit het (392 lopies, gemiddeld 39.20).

Aan die begin van sy tiende seisoen vir Namibië se senior span is Williams reeds die land se voorste lopiemaker in 'n eersterangse loopbaan (5 673, gemiddeld 39.95). Dit sluit 14 honderdtalle en 29 vyftigtalle in.

Die 18-jarige skoolseun van Windhoek Gimnasium, Lo-han Louwrens, is as die spelers se speler van die jaar bekroon. In sy tweede seisoen vir die senior span het hy vir die eerste keer 'n honderdtal in eersterangse krieket behaal, toe hy teen die Boland in die Paarl 110 lopies van 204 balle geslaan het (15x4, 1x6).

Louwrens was ook redelik bestendig in sy tien kolfbeurte wat 369 lopies opgelewer het.

Die 21-jarige draaibouler Danie van Schoor is vereer as die speler wat die beste vordering as lid van die nasionale span gemaak het. Hy het in tien wedstryde 22 paaltjies ingeoes.

Die senior nasionale afrigter Dee Thakur is as Krieket Namibië se afrigter van die jaar vereer, vir die eerste eindstryd wat die senior span in die Suid-Afrikaanse kompetisie kon haal.

Eben van Wyk is die onder 19-speler van die jaar; Mauritius Ngupita is vereer as die o.17-speler wat die pas aangee; Nicol Loftie-Eaton is die voorste o.15-speler en Divan la Cock is as die topspeler van die o.13's bekroon. Laasgenoemde twee is die kapteins van die Namibiese spanne in dié ouderdomsgroepe.

In vrouekrieket was Irené van Zyl die senior speler van die jaar, Yasmeen Khan die voorste o.19-speler en Hannelise de Klerk die junior speler van die jaar.

Die toekenning vir die beste ontwikkelende meisiespeler is tussen Adri van der Merwe en Wilka Muwatile gedeel.

Op administratiewe vlak is Hestelle Haccou as die administrateur van die jaar aangewys; Donovan Bolton as die voorste beginner-skeidsregter en Claus Schumacher as skeidsregter van die jaar; Juanné Engelbrecht as die nommer een tellinghouer en Gerson Nambahu (Trustco United) as die voorste veldopsigter.

Krieket Namibië se president, mnr. Richard Frankle, het twee eretoekennings oorhandig – postuum aan wyle Raymond van Schoor vir sy bydrae tot Namibiese krieket, asook die Gees van Krieket-toekenning aan die klubspan EBH Welwitschias van die kus. Laasgenoemde was gemiddeld die jongste span in die premierliga wat meestal uit skoolseuns bestaan, maar nogtans het die Welwitschias vir die eerste keer boaan die puntelys klaargemaak en het in die eindstryd teen WHS Old Boys verloor.

Afsonderlike pryse is ook vir die Kwata ontwikkelingsprogram oorhandig, naamlik aan Wilhelm Tuhafeni as administrateur van die jaar; Shinime Shiivula Primêre Skool van Ondangwa as die topskool; Albert Mbwembwe as die toonaangewende ontwikkelingsbeampte en die kus as die voorste streek op die gebied van ontwikkeling van krieket.

Die individuele trofeewenners in die ligas geborg deur Three Ships Whisky was soos volg:

Premierliga 50 boulbeurte: Gareth Cloete (beste kolwer, WHS Old Boys), Ben Shikongo (beste bouler, Welwitschias).

Premierliga T20: Wessel Myburgh (beste kolwer, Wanderers), Hendrik Geldenhuys (beste bouler, Wanderers).

Eerste liga (40 boulbeurte): Nicky Buys (beste kolwer), Colin Peake (beste bouler, Welwitschias).

Eerste liga T20: Nicky Buys (beste kolwer, WHS Old Boys), Helmut Mack (beste bouler, Sparta).

Tweede liga (30 boulbeurte): Kobus Kruger (beste kolwer, Mariental), Petrus Smit (beste bouler, Mariental).

Tweede liga T20: JP Conradie (beste kolwer, CCD Tigers), Albert Maartens (beste bouler, WHS Old Boys).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!