Topskrywer bekoor Windhoek

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die bekroonde Namibies-gebore skrywer Zirk van den Berg se boekbekendstelling by Windhoek Book Den het verlede Saterdag groot aftrek in hoofstad die gekry.

Daar was groot belangstelling in sy boeke wat in Namibië afspeel, naamlik 'n Ander Mens en Die vertes in.

Dit is ook in Engels as Nobody Dies en Parts Unknown gepubliseer.

Sy nuutste voorstedelike sprokie, Ek wens, ek wens, is ook bespreek en Zirk is tans besig om die draaiboek vir 'n fliek te skryf.

Prof. Marianne Zappen-Thomson, ’n Duitse dosent aan die Universiteit van Namibië (Unam), het haar goed van haar taak as gespreksleier gekwyt.

Een van die gaste, die afgetrede akademikus prof. André du Pisani, het Die vertes in groot lof toegeswaai.

Hy sê die boek is tans polities baie aktueel teen die agtergrond van die Namas wat kaptein Hendrik Witbooi se Bybel binnekort uit Duitsland terug ontvang.

Zirk het die naweek by sy neefs, Botter en Gamma Bredenkamp, op die plaas Chaibis in die Gamsberg gekuier waar Die vertes in afspeel. Hy is juis in Namibië om navorsing oor sy Hochnamib-boeke te doen.

Zirk het Dinsdagaand ook by die Swakopmunder Buchhandlung op dié kusdorp gekuier. In Maart gaan hy die Woordfees op Stellenbosch bywoon.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer