Topswemmers ook ernstig oor studies
Topswemmers ook ernstig oor studies

Topswemmers ook ernstig oor studies

Swem
Die swemmers Ronan Wantenaar en Heleni Stergiadis het net soos verlede jaar weer die senior ludorum-trofeë behou toe die vierdaagse Bank Windhoek nasionale langbadkampioenskap Sondag by die munisipale swembad in Olympia ten einde geloop het.

Wantenaar, van Marlins swemklub, het altesame 3 438 FINA-punte in sy items aangeteken, terwyl Stergiadis (Dolphins) se totaal op 3 421 FINA-punte te staan gekom het.

Buiten vir swem, neem dié duo ook hul studies ernstig op.

Wantenaar, wat in Suid-Afrika 'n graadkursus in elektriese ingenieurswese volg, sê sy liefde vir swem het hom gehelp om sy fokus op ander gebiede in die lewe ook te verskerp.

“Ek oefen sedert verlede jaar baie hard – selfs deur my eksamentye. Dis nie maklik nie, maar die passie vir sport help my deur dit alles.”

Hy moedig ander jeugdiges aan om in hul talente en passies te bly glo.

Stergiadis, wat reeds vir die derde jaar die ludorum-prys gewen het, sê die byeenkoms was 'n trotse hoogtepunt.

“Almal het hul beste vertonings kom lewer nadat ons van die busreis na Botswana teruggekeer het (waar sy by die CANA Streek 4-kampioenskap ook die senior victrix ludorum was).

“Die gees tussen die swemmers was uitstekend. Ek is dankbaar teenoor al my spanmaats van Dolphins en ook vir Bank Windhoek as die borg van ons kompetisie,” het die matriekleerder gesê.

Volgens Stergiadis het sy nog nie besluit watter studierigting sy volgende jaar gaan inslaan nie. “Solank ek kan aanhou swem en studeer, sal ek baie bly wees.”



JAAG NóG REKORDS

Dolphins se Oliver Durand is as die junior victor ludorum aangewys, met Maya Stange as die junior victrix ludorum.

Durand, tans in graad 7, sê hy is opgewonde om aan te hou swem­rekords breek. Stange is ook baie in haar noppies dat haar harde werk tydens haar oefenprogram vrugte afgewerp het.

Corné le Roux het die enkele beste individuele vertoning gelewer toe hy in sy 100 meter vlinderslag 602 FINA-punte behaal het.

Altesame nege nasionale ouderdomsrekord is oortref tydens die nasionale langbadkampioenskap waaraan 176 swemmers van sewe klubs in altesame 1 493 items meegeding het.

Dolphins het net soos verlede jaar die spantrofee ingepalm – dié keer met 'n totaal van 4 257 punte. Die ander deelnemende klubs was Aqua, Flippers, Marlins, Phoenix, Swakopmund en Oranjemund.

Die Bank Windhoek nasionale langbadkampioenskap is die hoogtepunt van die plaaslike seisoen se langbadbyeenkomste.

Vir die beste swemmers dien dit ook as proewe waar die span gekies word wat volgende maand aan die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap gaan deelneem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!