Tori skiet van die heup

Karin Eloff
In samewerking met Concerts SA maak die indie-kunstenaar en liedjieskrywer Shotgun Tori dié somer ’n draai in Namibië met haar Where we left it off-toer.

Shotgun Tori is 'n storieverteller wat uit haar hart uit sing. Sy deel stories van hartseer, verraad, dapperheid en onvolmaaktheid. Só dra sy haar interessante, soms humoristiese, maar altyd insiggewende lewensbeskouing oor. Haar rasperstem is terselfdertyd sag en sterk. Tori se musiek plaas jou in die oomblik, of dit nou vrolik of hartseer is.

Dié Johannesburgse sanger en kitaarspeler toer van die Kaap af Windhoek toe. Dit sal haar tweede Namibiese toer ná haar 2012-toer wees.

Met meer as 300 regstreekse optredes sedert haar debuut in 2011 is haar rekord drie vertonings op een dag. Sy het tot in Mosambiek ook al opgetree.

Tori het die afgelope paar jaar al haar beskikbare tyd aan 'n vollengte album bestee, wat deur skarebefondsing gefinansier is.

Dié album verskyn vroeg volgende jaar, waarná sy dan met die album sal toer.

Shotgun Tori is 'n sterk, onafhanklike, kreatiewe en hardwerkende kunstenaar wat nie bang is om nuwe klanke, style of sakemodelle uit te toets nie.

Sy sê: "Ek is so opgewonde om weer op die pad te wees en weer ’n band te smee met 'n gehoor wat folkmusiek liefhet. Dit is immers die musiek van gedeelde ervaring – verhale van die regte lewe in liedjies; musiek geskryf met die doel dat mense daarby aanklank vind.

“Dit is 'n ongelooflike geleentheid om 'n bietjie verder te reis as wat ek andersins sou kon.”

Shotgun Tori se Where we left it off-toer word deur Concerts SA en die Music Mobility-fonds ondersteun, wat die geleentheid vir Suid-Afrikaanse kunstenaars bied om regstreekse musiektoere te onderneem.

Shotgun Tori sal vanaand om 21:00 op die Warehouse-teater se verhoog te sien wees. Kaartjies kan aanlyn of by die deur gekoop word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer