Torrabaai-tradisie
My pa hou nie van verandering nie.
Hy is ‘n creature of habit. Hy wil nie oorsee gaan nie, want dis baie lekkerder by die huis en “jy kan mos na foto’s van Barcelona kyk, dis dieselfde ding”.
Só gebeur dit dat ons gesin elke liewe jaar Torrabaai toe gaan. Letterlik elke liewe jaar. Ek dink my pa verwyt nog steeds my boetie oor dié besluit het om op 3 Januarie sy verskyning te maak. My ma was te swanger om die klipperige pad aan te durf en Torra het ons daardie jaar nie gesien nie.
Natuurlik is daar ‘n storie agter dié storie. My ouers het daar ontmoet toe hulle al twee 17 was. Hulle is nou 23 jaar getroud. Eintlik maak dit my net depressief, aangesien ek al 20 en steeds dodelik enkellopend is (en almal het gesê ek gaan my sielsgenoot op universiteit ontmoet).
In elk geval, so pak ons elke jaar Die Groot Trek aan. Ons pakkaas is groot, want ons kamp in styl! Daar word selfs ‘n bad vir my ma saamgepiekel, want sy sê die kampstorte is grillerig. My pa het selfs vir ons ‘n donkie geprakseer, sodat ons warm- en koue water in die “kombuis” kan hê.
Jy kan seker sê ons is kampsnobs, hoewel dit nie altyd so was nie. Ek onthou die jare voor ek skool toe is. My ma het met die bakkie gery, en my pa met die Unimog (die ou weermag-weergawe wat soos ‘n klitser op steroïede klink).
Dié gevaarte het teen ‘n slakkepas daardie haglike pad uitgekruip, en ons het omtrent drie pap wiele voor Bergsig gehad. Die term “Groot Trek” was toe selfs meer gepas, aangesien hierdie petrolvraat nogal soos ‘n ossewa gelyk het. Ons het vieruur die oggend gery, en ons het die middag eenuur eers Torra se strand gesien. Juis wanneer jy keelvol gery is, moet jy kamp opslaan, ‘n delikate proses.
As kinders het ons daardie tyd nie veel beteken nie. My boetie is darem nou al 17 (hy sal verkies dat ek “amper 18” sê), en aansienlik sterker as 14 jaar gelede. En selfs met my spaghetti-armpies kan ek darem ook handjie bysit.
Kamp is definitief nié vir almal nié.
Ek loop die risiko om seksisties te klink, maar dis veral nie gewild onder dames nie. Daar is nie plek om ‘n haardroër in te prop nie en daar is gedurig sand in jou tent (dis heel moontlik jou jonger boetie se skuld).
Ek vermy sy tent soos die pes, maar so af en toe maak ek sy hok netjies, op my ma se aandrang. Op die ou end vee ek genoeg sand daar uit om ‘n klein duintjie te bou.
Die meeste dames sal ook nie juis aanklank vind by die kampstorte nie, veral wanneer die water koud is.
Voor die nuwe storte gebou is, kon jy omtrent kaas met al die muf onder die houtplankies in die ou storte maak. Die long drops is darem met spoeltoilette vervang, halleluja! Ek moet erken, dié toilette het my ook die horries gegee, en kleintyd was ek doodbang ek gaan inval.
Torrabaai se lys van vermaaklikhede is ook nie superlank nie. Tot daar waar jou oë kan kyk, is geen mall of fliek in sig nie. Tegnologieverbruik is ook beperk, behalwe vir ‘n boodskap of twee wat as die wind reg waai, per ongeluk deurkom.
So af en toe klim ek nog die watertoring as ek regtig desperaat is vir kontak met die res van die samelewing.
Sou ek dit geniet om op ‘n eksotiese plek met fantastiese cocktails vakansie te hou? Beslis ja. Maar steeds sal ek ons Torra-tye vir niks verruil nie. Soetwyn is soveel beter as cocktails wanneer jy half-bevrore uit die see kruip. Die seekat-uithaal-sessies, die kuiers rondom die kampvuur, en selfs die kragopwekkers wat my ma teen die mure uitdryf, het my gevorm. Torrabaai is vir my sinoniem met familie en samesyn.
Die punt is: Baie mense sal vinnig verveeld raak. Jy moet óf vir jou ‘n vriend saamvat óf jy moet seker wees jy geniet jou familie se geselskap. Gelukkig was laasgenoemde nog nooit vir my ‘n probleem nie.
(‘n Wenk aan my uitgebreide Du Plessis-familie: Moet asseblief nie jou troue in my pa se kosbare Torra-tyd reël nie. Jy sal hom soontoe moet sleep.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie