Tot 30 mm reu00ebn oor naweek ontvang
Tot 30 mm reu00ebn oor naweek ontvang

Tot 30 mm reën oor naweek ontvang

’n Kouefront wat teen Donderdag en Vrydag by die suidpunt van Afrika aangeland het, is deur ’n weerkenner as ’n “sneller” vir die somerreënseisoen beskryf.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Terwyl weerkenners hoopvol is op nog reën in die komende week, het dit die afgelope naweek tot 30 mm op Gobabis gereën, terwyl Otavi glo ook 10 mm reën ontvang het.

Op die Facebookblad “Reën in Namibia” het Dalene de Villiers Saterdag laat weet dit reën te lekker op Prosit, 70 km buite Outjo, terwyl Heidi Fink Vrydagmiddag 4 mm in die Summerdown-gebied aangemeld het.

Die afgelope Donderdag tot Vrydagoggend het dit ook tussen 1 mm en 7 mm in die omgewing van Windhoek gereën en 2 mm op Divundu, terwyl me. Kinna Husselvrou gesê het dit het 6 mm op Rehoboth gereën, terwyl me. Beverley Vries gesê het dit reën heerlik in Ondangwa. Op Kappsfarm het dit glo 4 mm gereën.

Mnr. Cornelius Kruger het gesê die Nossobrivier het selfs Donderdagaand geloop. Dit het Donderdag glo ook liggies op Mariental, Otjiwarongo en Tsumeb gereën, met mnr. Kai-Uwe Tietz wat laat weet het dit het 7 mm tussen Tsumeb en Oshivelo gereën.

Dit volg ná ’n kouefront wat teen Donderdag en Vrydag by die suidpunt van Afrika aangeland het deur LandWater as ’n “sneller” vir die somerreënseisoen beskryf is.

Landwater is ’n nieregeringsorganisasie wat satellietfoto’s wetenskaplik ontleed en interpreteer.

Dit het glo gehelp om ’n vogkanaal gedeeltelik oor Suid-Afrika asook Namibië oop te maak en donderstorms te vorm. “So draai die seisoen se reënratte nou werklik pragtig, met ons sneller wat sy towerwerk begin doen,” het LandWater op sy Facebookblad geskryf.

POSITIEWE VERWAGTINGE

LandWater het verlede week ook met behulp van ’n grafiek gewys dat die Oseaniese Niño-indeks (spesifiek in die gebied van Niño 3.4) op 24 Oktober steeds ’n afwaartse neiging toon – in die rigting van ’n sterk La Niña.

Hoewel dit tans nog as ’n matige La Niña op -1,4°C klassifiseer, staan dit op die drumpel daarvan om na ’n sterk een oor te skakel, sou temperature in die tropiese Stille Oseaan enigsins verder daal.

“Ons is nou in ’n ontsettende interessante fase, veral met die inswaai na November, wat die vlak van die La Niña-sterkte sal help bepaal. Toutrek,” het LandWater verduidelik en bygevoeg dat, wat suider-Afrika se somerreënval betref, is La Niña “goed” en El Niño “sleg”.

Die Australiese Buro vir Meteorologie het in sy jongste vooruitskouing van 27 Oktober gesê hul eie asook internasionale weermodelle hou vol dat La Niña-toestande in die tropiese Stille Oseaan tot minstens in Februarie 2021 sal voortduur.

Volgens hul modelle behoort La Niña-toestande ’n piek teen Desember te bereik, met die helfte van die modelle wat boonop ’n sterk La Niña voorspel. Dit is goeie nuus vir reënvooruitsigte vir suider-Afrika, alhoewel die Indiese Oseaan-dipool (IOD) intussen weer na neutrale vlakke teruggekeer het.

Die Australiese Buro sê die meeste van sy modelle dui aan dat die IOD neutraal vir die res van 2020 sal bly.

Die Australiërs meen hoewel ’n klein moontlikheid bestaan dat huidige La Niña-toestande ewe sterk as dié van 2010-’12 kan wees, is daar die keer ’n paar sleutelverskille. Dit sluit in dat La Niña-toestande in 2010 veel vroeër in die seisoen gevestig het, ’n lang tydperk (vir meer as twee jaar) geduur het en dat sy impak deur ’n negatiewe IOD versterk is.

Volgens ’n verslag ná afloop van vanjaar se 24ste Suider-Afrikaanse Forum vir Streekklimaatvooruitsigte (SARCOF-24), wat op 27 en 28 Augustus virtueel aangebied is, behoort die oorgrote SADC vanjaar normale tot bo-normale reën tot en met Desember te ontvang, terwyl die hele streek tussen Januarie en Maart 2021 normale tot bo-normale reën te wagte kan wees.

Die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) het egter in ’n verslag wat op 21 Oktober uitgereik is, gewaarsku dat La Niña-toestande nie oraloor die wêreld ’n positiewe impak het nie.

Dit dra byvoorbeeld by tot ondernormale reën in die suidelike streke van Suid-Amerika, die westelike en sentrale Asië, in ekwatoriale Afrika asook die suidelike streke van Noord-Amerika.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!