Tot 50% wil sake uit SA neem
Riana de Lange
Byna die helfte van Suid-Afrikaanse sakeondernemings het in 'n peiling van Sakeliga gesê hulle het hul bedryfsaktiwiteite na die buiteland verskuif, is besig om dit te doen of sal dit in die nabye toekoms doen.
Gerhard van Onselen, 'n senior ontleder by Sakeliga, sê ondernemings hoop op beter beskerming vir fisieke en intellektuele eiendom, belastingvoordele en minder valutabeperkinge deur hul bedrywighede na die buiteland uit te brei. Deur risiko só te versprei, maak dit ondernemings beter bestand teen skadelike politieke besluite.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê deur internasionale diversifisering kan ondernemings nuwe of bykomende inkomstestrome skep in 'n geldeenheid anders as die rand. Sou die rand verswak, is hulle dus beter verskans.
Hy sê die peiling is in Augustus onder meer as 260 van Sakeliga se lede en ondersteuners gedoen om vas te stel, na gelang van die risiko, tot watter mate ondernemings bedrywighede na die buiteland skuif, of dele van ondernemings as buitelandse regsentiteite registreer. Net minder as 85% van respondente meen politieke risiko in Suid-Afrika is nou groter as drie jaar gelede onder oudpres. Jacob Zuma.
Le Roux sê in 'n verklaring dis noemenswaardig dat die hoë indruk van politieke risiko só hoog is selfs nadat pres. Cyril Ramaphosa die leisels oorgeneem het. Swak ekonomiese prestasie, beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en politieke onstabiliteit was van die grootste redes wat respondente aangegee het vir diversifisering na die buiteland.
Volgens Le Roux wys die terugvoering baie ondernemings aanvaar waarskynlik nie gelate die toename in politieke risiko nie en doen iets om hul ondernemings daarteen te verskans.
Dis wel duidelik dat die soort diversifisering nie vir alle ondernemings of sakelui moontlik is nie. Ondanks die hoë persentasie van diversifisering na die buiteland, is daar nie aanduidings van 'n volslae uittog van sakeondernemings en -leiers nie, sê Le Roux. “Ons indruk is dat ondernemings eerder daarop fokus om 'n gesonde verskansingstrategie teen politieke risiko in te stel.”
Die peiling is gedoen kort voor Sakeliga se internasionale toer hierdie week na verskeie sakebestemmings in Europa, waaronder Londen, Antwerpen en Den Haag. Die doel is om Sakeliga internasionaal bekend te stel, internasionale geleenthede te identifiseer vir sakelui wat vanuit Suid-Afrika sake doen, en om netwerke in stand te hou met die groeiende getal eks-Suid-Afrikaners in die buiteland.
Le Roux verwelkom die internasionalisering van Suid-Afrikaanse ondernemings en sê dit maak sin dat ondernemings hulle verskans teen die plaaslike politieke risiko.
Hy sê nieteenstaande al die hoop en retoriek wat gekom het met Ramaphosa se presidentskap, is die telbord nie in Ramaphosa se guns nie.
“Sy termyn word gekenmerk deur toenemende maatskaplike onstabiliteit, onluste en ontwrigting, verslegtende saketoestande, verswakkende eiendomsreg, verskerping van rasdiskriminerende beleide, voortgesette fiskale verkwisting, en verskeie ander skadelike ingrypings.”
Dit is dus te verstane dat sakelui hul blootstelling aan politieke risiko verminder, eerder as om te wag op “beter saketoestande”.
Hy sê die tendens wat uit die peiling blyk, sal herstel sou Ramaphosa sy belofte van 'n nuwe daeraad nakom. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie