Tot oor die ore oortrokke
Verbruikers se oortrokke rekeninge wat binne 'n jaar met bykans N$475 miljoen gestyg het, toon onder watter druk huishoudings verkeer.
Jo-Maré Duddy
Uit die bykans N$4 miljard se skuld wat verbruikers in die jaar tot einde Julie by banke aangegaan het, was amper 30% vir persoonlike lenings, oortrokke rekeninge en kredietkaarte.
Waar totale krediet wat banke aan individue toegestaan het in die 12 maande onder oorsig met 8,3% gegroei het, het oortrokke rekeningskuld met 18% gebult. Persoonlike lening- en kredietskuld was 16,5% hoër as in Julie 2016.
Daarenteen het verbandlenings aan verbruikers met net 8,7% toegeneem.
Die jongste statistiek wat deur die Bank of Namibia (BoN) uitgereik is, toon verbruikers se totale bankskuld teen die einde van Julie vanjaar was sowat N$51,6 miljard, vergeleke met bykans N$47,7 miljard 'n jaar gelede. Hiervan was sowat N$34,8 miljard verbandleningskuld.
Verbruikers is steeds onder groot druk, is ontleders dit eens. Die jaar-op-jaar-styging van 18% in oortrokke rekeningskuld is die hoogste sedert Desember 2014, sê IJG Securities. Simonis Storm (SS) sê verbruikers se “groot aptyt” vir oortrokke rekeninge is “kommerwekkend”.
Hoewel nog 'n stewige meer as N$7,2 miljard, trap verbruikers steeds skerp briek met paaiementskuld. In die 12 maande tot einde Julie het dié skuld met net sowat N$31 miljoen of 0,4% toegeneem.
Paaiementskuld
Die totale paaiementskuld van die private sektor – die sakesektor en verbruikers saam – het egter ingekrimp. Teen die einde van Julie was dié bedrag van bykans N$12,2 miljard sowat N$178,8 miljoen minder as 'n jaar gelede. Dit verteenwoordig groei van -1,45%.
Dit is die tweede opeenvolgende maand dat paaiementskuld aan die private sektor op 'n jaargrondslag inkrimp. In Junie was groei -0,74%. Volgens SS is dit die eerste keer ooit dat dié skuldkategorie op 'n jaargrondslag negatief groei.
IJG skryf die inkrimping hoofsaaklik aan die tuimeling van 12,8% jaar op jaar in nuwe voertuie toe. Nuwe voertuigverkope sukkel om spoed op te tel ná gewysigde wetgewing onder meer 'n deposito vereis en die afbetalingstydperk verkort is. Die ekonomie wat in die algemeen ook traag is, rem verkope ook, sê IJG.
'n Langdurige inkrimping in paaiementskuld sal die motorbedryf verder knou, waarsku SS.
Rentekoers
Die ontleders verwelkom die BoN se onlangse verlaging van 25 basispunte in sy repokoers, wat handelsbanke se prima-uitleenkoers tot 10,5% en die huisleningskoers tot 11,5% laat daal het.
SS meen egter nóg 'n verlaging is nodig om die druk op kredietgroei aan die private sektor te verlig.
Volgens die BoN het kredietgroei aan die private sektor in Julie met bykans 6,6% jaar op jaar gegroei. SS sê dit is die laagste groei sedert Julie 2017.
IJG verwag ook nog 'n rentekoersverlaging, aangesien 'n “enkele verlaging van 25 basispunte min gaan doen om die vraag na krediet aan te wakker”.
“Die huidige verlangsaming in die private kredietverlening getuig van 'n verbruiker wat reeds onder druk is, van 'n scenario van lae verbruikers- én sakevertroue,” sê IJG.
Teen die einde van Julie was die private sektor se totale bankskuld net meer as N$87,9 miljard. Hiervan was bykans N$35,9 miljard krediet wat aan die sakesektor toegestaan is. Jaar op jaar het krediet wat aan dié sektor toegestaan is, met sowat 5% gegroei.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie