Total onttrek sy personeel aan Mosambiek
Die maatskappy het die meeste van sy personeellede by die Afungi-gasprojek van US$20 miljard onttrek.
Die feit dat die Franse oliereus Total begin het om van sy personeel van die Afguni-skiereiland in die noordelike Mosambiekse provinsie Cabo Delgado te onttrek, wys die maatskappy het nie meer vertroue in die Mosambiekse weermag om sy personeel en belange teen militantes te beskerm nie.
Die maatskappy het die meeste van sy personeellede by die Afungi-gasprojek van US$20 miljard onttrek, berig die nuusbrief Mozambique news reports & clippings van die Open University in Brittanje.
Dit kom nadat Moslem-militantes, wat die steun van die Islamitiese Staat (IS) het, Vrydag verskeie aanvalle op Afguni gedoen het.
Bloomberg berig ’n dorpie skaars 5 km van die Mosambiekse LNG-aanleg, is aangeval.
Dié aanvalle is deur die Mosambiekse soldate afgeweer, met die hulp helikopters wat aan huursoldaat-maatskappye behoort.
Die Mosambiekse LNG-projek, waarin Total ’n belang van 26,5% het, moet in 2024 in produksie wees, berig die webwerf WorldOil.
Sowat 3 000 mense werk by die aanleg. Ses ander internasionale maatskappye is ook betrokke.
Die militantes beheer sedert Augustus die hawedorp Mocimboa da Praia, 55 km suid van Afungi. Verskeie ander teikens in die omgewing is die laaste ruk aangeval.
KOSVOORRAAD
Omdat die reënseisoen in dié omgewing nou aangebreek het, was die doel van die jongste aanvalle waarskynlik om kosvoorraad in die hande te kry.
Die kamp waar die kos vir die Mosambiekse ingrypingsmag – wat bestaan uit soldate en polisiebeamptes – in die omgewing voorberei word, is in Afguni.
Die rebelle het gewaarsku die dorp Palma naby die Tanzaniese grens sou gister aangeval word.
In die verslag word gesê bote met kos- en ander toerusting aan boord kon al vir langer as ’n week nie tussen Pemba, die hoofstad van Cabo Delagdo, en Palma vaar nie. Dit sluit ook ’n “drywende hotel” (skip) in.
Die slegte grondpad tussen Pemba en Palma – die enigste oop pad tussen die twee stede – is vroeër reeds gesluit.
Luidens die nuusbrief wil dit voorkom asof die ingrypingsmag bloot wag op die rebelle om hulle aan te val en nie self die inisiatief neem nie. Dit is omdat die ingrypingsmag nie mobiel is nie.
“Die Mosambiekse weermag wen gevegte, maar verloor grond. Die strop word stywer gespan,” luidens die nuusbrief.
In die nuusbrief word ook gesê die onttrekking van die Total-personeel en die verbod op bootvaarte tussen Pemba en Palma, bring mee dat die projek vertraag word.
Daar kan ook ander gevolge wees.
Die Amerikaanse maatskappy ExxonMobil beplan om ook ’n gasaanleg in Afguni te bou, maar het die laaste ruk ’n finale besluit oor ’n belegging uitgestel.
“Die onveiligheid van die omgewing bied ’n uitdaging aan Total. Hy kan ’n muur aan die landkant bou, maar ’n groot deel (van die aanleg) kyk uit op die see.
VLOOT
“Die verbod op seevaart dui daarop dat die Mosambiekse vloot nie die seekant kan beskerm nie.
“Die vraag is of Total die Mosambiekse regering kan dwing om ’n groot Franse mag, bestaande uit die vloot en soldate, te aanvaar.”
Daar was al sprake dat die Suid-Afrikaanse vloot kan help om die Mosambiekse kus te patrolleer.
Die verbod op seevaart dui daarop dat die Mosambiekse vloot nie die seekant kan beskerm nie.
Die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), waarin Suid-Afrika ’n kernrolspeler is, het nog nie met ’n plan vorendag gekom oor hoe hy Mosambiek kan help nie.
Suid-Afrika hoop om in die toekoms gas uit Cabo Delgado in te voer.
Sedert die Islamitiese terreurgroep Al Soennah wa Jama’ah (ASJ) drie jaar gelede met ’n terreurveldtog in die gas- en olieryke Cabo Delgado begin het, is meer as 2 500 mense al dood en duisende dakloos gelaat. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie