Totale gesag teen Kenia afgedwing

Die Namibiese rugbyspan het tot komende naweek se finaal van die Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaagtoernooi deurgedring en pak Zimbabwe volgende.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Selfs die mees skeptiese kritici van Namibiese rugby sou nie anders kon as om beïndruk te wees met die nasionale span se vertoning in gister se toets teen Kenia op Stellenbosch nie.

Kaptein Johan Deysel – een van verskeie staatmakers wat hul eerste toets sedert die 2019 Wêreldbeker gespeel het – en sy span het tydens die oorwinning met 60-24 toenemend begin lyk soos 'n groep wat nie gaan afstand doen van Namibië se stand as die beste van die vasteland se aanspraakmakers op WB-kwalifisering nie.

Wedstrydkans was maar skraps vandat Covid-19 die afgelope twee rugbyseisoene onderbreek het, maar ondanks die verwisseling in afrigters en die insluiting van verskeie nuwelinge het Namibië ná 'n ietwat wankelrige eerste helfte (drie drieë elk) skouspelagtig reggeruk en ná die hervatting sewe drieë sonder antwoord gedruk.

'n Ooglopende sterk nuwe faktor in die Kenia-span is sy Fidjiaanse los­skakel Jone Kubu, wat op grond van ses jaar verblyf in Kenia kwalifiseer om vir dié land te speel. Kubu se uitmuntende tydsberekening van sy aangeewerk het sy buitespelers op spoed vir drie puik drieë weggestuur, wat hyself ook verdoel het om die Oos-Afrikane ná 25 minute met 21-12 voor te plaas. Danksy nog 'n Kubu-strafdoel was die rustydtelling 24-19.

Namibië het nietemin laaste gelag – veral ná die terugkeer van Wian Conradie wat tien minute in die koelkas vir 'n span-waarskuwing teen oortredings op die grond moes uitdien.

Die drieë in die eerste helfte is deur linkervleuel JC Greyling, agtsteman Renaldo Bothma en slot Pieter-Jan van Lill gedruk. Losskakel Cliven Loubser het met twee van die drie doelskoppe geslaag.

Onmiddellik ná rustyd het Louis van der Westhuizen (wat as haker in Obert Nortjé se plek opgestuur is) twee opeenvolgende drieë van lynstaandrywe gaan druk (41ste en 46ste minute) en hoewel Damian Stevens (skrum­skakel) net met een van die twee doel­skoppe kon slaag, het die gety op onkeerbare wyse gedraai.

Lorenzo Louis, in sy eerste toets op heelagter, was volgende op die telbord met 'n flinke systap wat hom vir sy eerste drie oorgedra het, ná puik aanvoorwerk deur Bothma en Wian Conradie en 'n binne-aangee deur regtervleuel Oderich Mouton.

Namate die plaasvervangers opgestuur is, het die Namibiese wurggreep geensins verslap nie. Selfs toe Aranos Coetzee in die eerste helfte met 'n stamp teen die boarm vervang moes word, het die jeugdige stutte Herschell van Wyk en Gerhard Opperman nie 'n tree terug gegee nie.

Een van Conradie se moordende duikslae het gehelp dat Kenia se besit afgeneem is en hy het weggebreek en na Cliven Loubser uitgegee, voordat Greyling sy tweede drie op tipiese wyse in die hoek gaan afrond het. Stevens kon nie verdoel nie, maar die telling was 41-24 ná 53 minute.

Loubser se geleerde skopvoet met die wind van agter het Kenia minstens drie keer met puik dwarsskoppe na hul eie hoekvlag toe teruggejaag. Conradie het die volgende drie van 'n dryfmaal gaan druk, voordat hy ook vanuit 'n soortgelyke posisie weggebreek en die plaasvervanger Helarius Kisting met 'n binne-aangee deurgejaag het. Laasgenoemde drie is deur Henrique Olivier (plaasvervanger) verdoel.

Vir oulaas het Olivier met selfvertroue 'n rolskop deurgestuur vir Loubser om te jaag, wat hy van teenaan die kantlyn binnetoe geklap het om vir Conradie sy tweede drie van die dag te maak, wat Olivier opnuut verdoel het.

Namibië speel dus komende Saterdag in die finaal van die Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaagtoernooi teen Zimbabwe, wat die ander wedstryd met 24-22 teen Brasilië gewen het. Die Namibiese skeidsregter Nicardo Pienaar het dié wedstryd hanteer, waarin Brasilië met 10-24 agter was voordat hulle met die laaste twee drieë sterk geëindig het.

FOTO’s
Pine Pienaar, wat as hoofafrigter waarneem terwyl Allister Coetzee nog in Italië is, hou gister se wedstryd dop. Links is Chrysander Botha (aanvalsafrigter) en regs Pieter-Jan van Lill, wat in die tweede helfte as slot vervang is. Skermgreep YouTube (World Rugby)

Lorenzo Louis spring in die arms van Oderich Mouton in die feesvieringe ná Louis se eerste toetsdrie in sy debuut. Skermgreep YouTube (World Rugby)

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer