Totsiens Alessandro

Die man agter die bekende fluitdeuntjies in Wilde Weste-rolprente is in sy geliefde Swakopmund dood.
Jessica Botes
Jessica Botes - Die wêreldbekende Italiaanse musikant en komponis, Alessandro Alessandroni, meester van talle instrumente en skepper van musiek, is Sondag in die ouderdom van 92 by sy huis op Swakopmund oorlede.

Alessandroni is die man agter die bekende fluitdeuntjies in bekende Wilde Weste-rolprente soos A Fistful of Dollars en The Good, the Bad and the Ugly.

Hy het op Soriano nel Cimino, 'n dorpie naby Rome in Italië grootgeword. Die familie se barbierwinkel was 'n gewilde saamtrekplek vir plaaslike musikante en sy liefde vir musiek het hier begin ontwikkel.

As 'n jong musikant het Alessandroni homself in die musikale folk-tradisie van sy geboortestreek, Latium, gedompel. Met die hulp van 'n vriend wat kitaar gespeel het, het Alessandroni die basiese akkoorde geleer. Op die ouderdom van 13 het hy sy eerste mandolien gekoop en gereeld na klassieke musiek geluister. Dit het hom nie lank geneem om die mandolien te bemeester nie.

Tydens sy laaste jaar op hoërskool het Alessandroni 'n sanggroep gevorm wat by Saterdagaand-danse opgetree het.

Jare later het Alessandroni sy talent vir fluit ontdek wat hy gereeld by sy vertonings ingesluit het.

“Enige iemand kan fluit, maar dit verg die vermoë om 'n klein hoeveelheid klank met 'n groot hoeveelheid asem te maak.”

Gedurende die sestigerjare het Alessandroni se professionele pad met die van 'n vriend uit sy kinderjare, Ennio Marricone, gekruis. Marricone het pas sy eerste Wilde Weste-rolprent georkestreer en wou nuwe klanke by sy nuwe projek insluit.

Alessandroni se talent met die kitaar en sy vermoë om te fluit, het na vore gekom in Marricone se orkestrering van die rolprent Guns don't argue. Hierna het die duo op ver­skeie bekende rolprente saamgewerk, onder meer die bekende A Fistful of Dollars.

Alessandroni is wêreldwyd bekend vir sy enorme bydrae tot die Italiaanse teater. Hy was 'n romantiese en 'n vurige aanhanger van die 19de eeuse Russiese komponiste. Hy was van mening dat hul passie en sielvolle melankolie gemaak het dat hul musiek die diepste sensitiwiteite van die siel raak.

Alessandroni het sy vrou, Margaret Courtney-Clarke, in 2000 in Italië ontmoet. Die egpaar het in 2009 van Italië na Swakopmund verhuis.

Hy laat sy vrou, seun, dogter en ses kleinkinders agter.

'n Private herdenkingskonsert ter viering van sy lewe sal vandag (30 Maart) by sy huis gehou word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer