Toue vir iPhone 8 maar effe kort
Toue vir iPhone 8 maar effe kort

Toue vir iPhone 8 maar effe kort

Baie iPhone-aanhangers wag waarskynlik vir die iPhone X wat eers in November te koop sal wees.
Die aandeelprys van Apple se grootste verskaffers in Asië het skerp geval sedert die nuutste iPhone twee weke gelede onthul is.

Dit word beskou as 'n aanduiding dat beleggers nie juis opgewonde is oor die potensiële verkope van die nuwe produkte nie.

Intussen berig The Guardian dit lyk asof die opwinding oor die iPhone 8 en 8 Plus, wat Vrydag in verskeie lande die rakke getref het, baie minder is as met vorige nuwe iPhones.

Minder as 30 mense het Vrydag tou gestaan by Sydney se iStore, vergeleke met honderde mense wat gewoonlik tou staan vir nuwe iPhones. By Londen se Regent Street-winkel was rye ook veel korter as vantevore.

Die meeste mense reken dat baie ­iPhone-aanhangers wag vir die iPhone X, Apple se duurste en gevorderdste foon nóg, wat eers in ­November te koop sal wees. Vooraf bestellings vir die X sal van 27 Oktober af gedoen kan word.

Die X sal in Amerika vir US$999 verkoop word. Fin24 het vroeër bereken dat die foon in Suid-­Afrika dalk minstens R18 000 kontant sal kos.



Wins

Apple gaan 'n stewige wins op die X maak. Die navorsingsfirma Susquehanna International Group raam dat Apple US$581 vir die onderdele betaal en dus 'n bruto wins van US$418 maak voordat vervaardiging-, verspreiding en ander koste ingereken is, berig Fortune.

Bloomberg berig dat Hon Hai Precision Industry, wat die iPhone en ander Apple-toestelle bou, in Taipei, Taiwan, reeds 10% van sy ­markwaarde verloor het. Pegatron, ook van Taiwan, en LG Innotek, van Suid-Korea, het meer as 13% van hul markwaarde verloor.

Taiwan se aandelebeurs van meer as US$1 100 miljard is baie blootgestel aan die lot van Apple-produkte omdat dit oorheers word deur vervaardigers van elektroniese onderdele.

Hon Hai en Taiwan Semi­conductor Manufacturing, die grootste skyfievervaardiger vir Apple, verteenwoordig saam 'n kwart van die Taiex, die indeks van alle aandele op die ­Taiwanse aandelebeurs.

- Netwerk24/Bloomberg/The Guardian/Fortune/Fin24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!