Tour de Windhoek kom weer met ambisie
Hewige kompetisie word by volgende maand se skouspel verwag.
Andrew Poolman - Ná die suksesvolle herlewing van verlede jaar, is die organiseerders vuur en vlam dat die 2018 Tour de Windhoek padfietstoer opnuut 'n byeenkoms van topgehalte sal wees.
Vyf harde skofte word binne drie dae afgehandel in die fietstoer wat oor altesame 400 kilometer strek.
Internasionale spanne het reeds aangedui dat hulle vanaf 21 tot 23 September weer die paaie in en rondom Windhoek gaan kom aandurf. Die afstande wissel van 107 km vir die skof by Dordabis, tot 23 km vir die spanne se tydtoets.
Soos gewoonlik sal spesiale truie die voorste ryers aandui, naamlik groen vir die beste naelryer, polka vir die koning van die berge, wit vir die beste jong ryer en natuurlik die geel vir die algehele voorloper wat uiteindelik die toer in die kortste tyd voltooi.
Prysgeld ter waarde van altesame N$161 000 sal daartoe bydra dat die kompetisie ewe hewig as verlede jaar sal wees, toe die Suid-Afrikaanse beroepspanne die podiums oorheers het.
Die algehele elite manswenner sal byvoorbeeld met N$15 000 beloon word. Die wenners van die groen, geel en polka-trui sal elkeen met N$5 000 wegstap.
Die inskrywingsgeld beloop N$3 000 per span, wat uit minstens vier en maksimum ses lede kan bestaan.
“Vyf skofte binne drie dae is harde werk, maar dit is hoe fietsry op die topvlak is. Toe die Tour de Windhoek ontstaan het, het ons agt skofte in vier dae gedoen. En van daardie deelnemers het later vir Olimpiese Speles gekwalifiseer,” het Mannie Heymans, organiseerder en gewese kampioenryer, gister gesê.
Volgens hom sal veral die kermesse in die middestad weer vir toeskouers 'n insig in die spoed, vernuf om die draaie en spantaktiek van die beroepsjaers gee.
Heymans het bygevoeg dat die fietsrygemeenskap veel groter as net die paar professionele jaers aan die voorpunt is. Om dié rede word die Tour de Windhoek Light ook aangebied waarin ryers in hul eie ouderdomskategorie ook kan meeding en pryse kan wen.
Op 'n mediavraag of daar nie ook 'n trui vir die beste Namibiese ryer op die spel behoort te wees nie, het Heymans gesê die gedagte is dat plaaslike ryers eerder moet streef om met krag, vernuf en spanwerk teen die beroepsjaers uit Suid-Afrika en ander lande hul stempel af te druk, as om bloot hul visier op “beste in Namibië” in te stel.
Verlede jaar se algehele wenner van die geel trui was Steven van Heerden van die Suid-Afrikaanse BCX-span. Sy spanmaats Calvin Beneke en David Maree was ook in die topvier.
Aan die vrouekant was daar minder buitelandse mededingers en Namibië se Michelle Vorster (Zimmermann VW Cats) het die toer gewen met Michelle Döman (R&R Importers) in die tweede posisie.
Hollard Namibia, die Pupkewitz-groep (Megabuild, Megatech en sy motorafdeling), die Namibië Brouerye en Radio Wave is van die borge wat die Tour de Windhoek moontlik maak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie