Tradisionele kennis met 'n moderne kinkel

African Naturals Namibia maak nie net haarprodukte soos organiese sjampoe en opknapper nie, hulle het onlangs ook met hul baie gewilde haarmaskers begin.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Ek het my hare afgesny en haarprodukte gesoek, maar ek kon nie natuurlike produkte op die winkelrakke kry nie en het besluit om dit self te maak. Vandag maak ek 'n verskeidenheid produkte onder die naam African Naturals Namibia,” sê Zodidi Gaseb.

Zodidi is op Swakopmund gebore en het daar grootgeword. Ná skool het sy in Oos-Londen skone kunste gaan studeer.

“My ma kom uit Suid-Afrika en al haar familie woon in Oos-Londen, dus was dit vir my baie maklik om soontoe te gaan en daar te studeer. Tans is ek besig met twee aanlyn kursusse; die een is in chemiese formulering en die ander is in leierskap.”

Zodidi was vir 'n paar jaar die kurator van die Nasionale Kunsgalery in Windhoek voordat sy by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) begin werk het.



SKOONHEIDSPRODUKTE

“Nadat ek in 2016 my hare gesny en na produkte gesoek het, het ek agtergekom daar is min natuurlike produkte vir my haartipe. Baie van die produkte het chemikalieë bevat wat nie net vir my hare nie, maar ook vir my skadelik was.”

Zodidi se familie in Suid-Afrika het nog altyd hul eie kruie gemeng.

“Ek dink dit is 'n groot rede hoekom die meng van olies, geure en kruie vir my so maklik kom. Dit is iets waarmee ek grootgeword het en die kennis is deur geslagte heen oorgedra. Ek was nog altyd die een in die familie wat die een of ander doepa vir hul kwale gemeng het.”

Sy het galambotter (­sheabutter) van 'n vriendin ontvang en daarmee begin.

“Dit was baie goed vir my hare en ek het begin om ander produkte te ondersoek. Ek het ook na natuurlike Namibiese olies soos ximenia americana, maroela en moringa begin kyk en dit in my produkte begin inkorporeer.”

Zodidi het haar besigheid in haar klein kombuis by die huis begin en haar twee kinders en vriende as proefkonyne gebruik.

“Besigheid is jou passie en jy kan dit net so wel geniet. Dit hoef nie iets te wees wat jou laat dink 'ai tog, nou moet ek weer werk toe gaan' nie. Ek het aanvanklik iets gedoen soos dalk 'n sepie op TV gekyk en 'n idee het in my kop gespring. Ek het opgestaan en onmiddel­lik begin om die idee in 'n produk te omskep. Dikwels het dit nie uitgewerk nie, maar dit het my nie gekeer om weer en weer te probeer nie.”

“As ek enige raad kan gee aan iemand wat nie net in die skoonheidsbedryf wil begin nie, maar as entrepreneur in geheel, is dit: doen navorsing. Jy kan nie te veel navorsing doen nie. Doen navorsing sodat jy die aantal foute wat jy sal maak kan verminder. Kyk wat is daar buite sodat jy nie dieselfde doen nie, maar eerder iets ander of beters.

“Die skoonheidsbedryf het in die laaste paar jaar ontplof en almal maak soort van dieselfde goed; jy moet jouself herontdek. Dink en kyk ook nie net na die plaaslike mark nie, dink internasionaal, want dit is op die ou einde waarnatoe jy en jou produk streef.”

Zodidi beveel ook 'n mentor aan.

“'n Mentor wat entrepreneuriese kennis het, kan jou baie tyd en geld spaar. Ek het nou 'n mentor wat my help om my foute te verminder. Dit is nie dat ek bang is om foute te maak nie.

“Ek reken as jy moet misluk, misluk vroeg sodat jy dit uit jou pad kan kry. Leer die lesse en beweeg vorentoe.”

African Naturals Nami­bia maak nie net haarprodukte soos organiese sjampoe en opknapper nie. Hulle het onlangs met hul baie gewilde haarmaskers begin. Hulle maak ook produkte soos badsoute.

“Ons maak haar- en velprodukte en produkte waarmee jy jouself kan bederf. Die omgeeprodukte is die produkte waarop ons wil uitbrei. Ons maak ook produkte vir mans, soos ons baardolie. Wat ons produkte laat uitstaan, is die feit dat mans en vrouens dit kan gebruik en multifunk­sioneel is,” het Zodidi gesê.

“Ek probeer om die natuurlike goed wat ons voorvaders gebruik het, te inkorporeer. Ons wil terug na die ­tradisionele kennis van ons ­voorvaders gaan, met 'n moderne kinkel.”

Op Saterdae wanneer Zodidi, Jennifer da Silva en Padja Kaitungwa besig is om hul produkte in die Bokamoso-onderneming­sentrum in Katutura te maak, is mense welkom om te kom inloer.

“Hulle kan met ons kom gesels en kyk wat ons doen en as hulle wil, is hulle natuurlik welkom om sommer direk hier van ons produkte te koop.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!