Trae tussenverkiesings op eerste skooldag
Trae tussenverkiesings op eerste skooldag

Trae tussenverkiesings op eerste skooldag

Uitslae sou volgens plan gisteraand reeds aangekondig word.
Augetto Graig
Augetto Graig en Otis Finck - Die tussenverkiesings in die hoofstad, Gobabis, Keetmanshoop en Walvisbaai het gister stadig uit die blokke gekom.

Die Khomasdal-kiesafdeling in Windhoek het die stemproses traag afgeskop met min kiesers wat teen vroegoggend al gaan stem het.

Stempunte in Khomasdal, Otjomuise en die 7de Laan- en 8ste Laan-nedersettings was teen 07:00 reeds oop, maar was lank doodstil.

By die Hoërskool Augustineum het die voorsittende beampte, mnr. Benjamenn Negumbo, gesê mense bly moontlik weg weens werksverpligtinge en die feit dat skole gister vir die jaar geopen het.

Die Otjomuise-kliniek se voorsittende beampte, mnr. Walter Hendricks, het gesê 40 mense het teen 10:36 daar gestem, terwyl me. Mentolina Jezurura, in beheer van die stempunt by Laerskool Gammans, kon bevestig slegs 16 kiesers het teen 11:00 opgedaag.

By die Daan Viljoen-padblokkade het die voorsittende beampte, mnr. Alvin Kuutondokwa, gesê 27 mense het teen 10:10 daar gestem.

In die Khomasdal-kiesafdeling het mnr. Angolo Samuel van Swapo teen mnr. Reggie Diergaardt van die PDM, mnr. Kauahuma Tjiunomuinjo van Swanu en me. Mara Baumgartner van die LPM te staan gekom.

Samuel het sy stem vroegoggend by die Mamadu-stempunt in 8ste Laan ingedien en was teen middagete nog optimisties dat meer inwoners later die dag sou stem.

“Kom ons neem omstandighede in ag: Dit is die eerste dag van skool en ouers werk ook. Ek glo dit sal ná twee optel,” het hy gesê.

Aan die kus het die stemmery by 10 vaste en nege mobiele stempunte ook drupsgewys afgeskop.

Slegs 10 mense het teen 10:00 hul stemme by Narraville se stempunt uitgebring.

Sommige kiesers moes weggewys word omdat hulle nie vir die tussenverkiesing geregistreer was nie.

Volgens die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het 23 169 mense op Walvisbaai geregistreer om te stem.

Volgens Nampa het die prentjie nie veel beter daar uitgesien by die agt vaste en 19 mobiele stempunte op Gobabis nie.

By vier uit agt punte wat besoek is, is nie ’n enkele stem teen 10:30 ingedien nie.

Die Epako-munisipaliteit se stempunt het egter reeds voor 08:00 al 37 kiesers ontvang, en by die Laerskool Rukutuka het 49 stemmers vroegoggend gestem.

Volgens die ECN was 13 457 mense geregistreer om op Gobabis te stem.

Op Keetmanshoop was daar meer beweging, met 50 mense wat tougestaan het alvorens die W.K.Rover-saal as stempunt geopen het.

Volgens Nampa het 45 mense teen 07:45 reeds by die St. Francis de Sales-stempunt gestem.

Sowat 11 540 inwoners sou op Keetmanshoop kon stem – aldus die ECN se syfers.

Die politieke ontleder mnr. Graham Hopwood het gesê die swak opkoms toon die opposisie en onafhanklike kandidate kon nie die momentum van verlede jaar se nasionale verkiesings behou nie.

Dít kan moontlik tot Swapo-kandidate se voordeel strek, het hy gesê.

Hy het wel genoem streekraadverkiesings toon in die algemeen lae opkomste, en tussenverkiesings die laagste.

“Kiesers besef dit is nie so belangrik soos die nasionale verkiesings nie. Streekrade het ook nie soveel magte of verantwoordelikhede ná die desentraliseringsproses die afgelope jare vertraag is nie,” het Hopwood gesê.

Gister se tussenverkiesings het ook in stedelike gebiede plaasgevind waar die munisipaliteit meer mag het en streekrade se invloed beperk is, het hy gesê.

Volgens die ECN kos elk van gister se vier tussenverkiesings sowat N$1,4 miljoen.

Me. Vikitoria Hango, ECN-woordvoerder, het gesê spanne by die onderskeie stempunte sou die uitslae gisteraand ná afloop van die verkiesings buite lokale opplak.

Hierna sou hulle by insamelingsentrums byeenkom om finale uitslae bymekaar te tel.

In Windhoek sou die finale uitslae by Hoërskool Augustinuem aangekondig word.

Die skougronde was die byeenkompunt op Keetmanshoop, en op Gobabis sou die finale uitslae by die Nossobville-gemeenskapsaal bekend gemaak word.

Op Walvisbaai sou die Kuisebmond-gemeenskapsaal die stemme se eindbestemming wees.

[email protected], [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer