Tragedie vir Kaap-na-Kaïro-droom

Die U-Dream Global-inisiatief het in ’n treurspel ontaard toe die stigter se pa en sy medevlieënier gesterf het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die droom van Suid-Afrikaanse tieners wat ’n vliegtuig gebou het om van die Kaap na Kaïro te vlieg om ander Afrikatieners te inspireer, het in tragedie geëindig toe die jong stigter van U-Dream Global, Megan Werner (17), se pa en sy medevlieënier se bystandsvliegtuig neergestort het.

Netwerk24 se Marietie Louw-Carstens en Malherbe Nienaber berig mnre. Des Werner (49) en Werner Froneman (39) is dood toe die Sling-4-vliegtuig waarin hulle was, neergestort het.

Die twee kommersiële vlieëniers van Johannesburg se vliegtuig het Saterdagoggend voor 08:00 sowat 30 km van die Tabora-lughawe in Tanzanië neergestort.

Hulle was deel van die inisiatief van tieners wat met The Airplane Factory se hulp en onder Denel se wakende oog in Junie verlede jaar ’n prototipe van ’n Sling-4-vliegtuig gebou het om van Kaapstad na Kaïro te vlieg.

Mnr. Sam Manda, woordvoerder van die U-Dream Global-inisiatief, het aan Netwerk24 gesê die oorsaak van die ongeluk waarin Werner en Froneman dood is, is nog nie vasgestel nie.

Hulle was nié in die prototipe-vliegtuig nie, maar in ’n Sling-4 waarmee daar volgens Manda al verskeie kere vantevore gevlieg is.

Die tog van 12 000 km van Kaapstad na Kaïro het in Junie vanjaar begin.

Op 17 Junie het die tieners op Windhoek se Eros-lughawe geland.

Kort voor hul landing in Windhoek het Werner aan Republikein gesê hy het tydens sy opleidingsjare in die laat 90’s vir twee jaar lank in Windhoek gewoon en hy sou die tieners vir twee dae lank Sossusvlei toe neem voor hulle by Windhoek sou aandoen.

“Ons het soveel plekke om te sien en het net ’n maand vir die reis. Sossusvlei is vir my baie spesiaal omdat ek baie daar gevlieg het,” het hy gesê.

Die span het ook in Malawi, Ethiopië, Zanzibar en Tanzanië aangedoen.

Megan is een van die tieners wat aan die proto­tipe help bou het.

Sy is ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Werner se vrou, Belinda, het aan Netwerk24 gesê Des sou gister ná hul avontuur in Suid-Afrika aankom.

Die U-Dream Global-inisiatief het wêreldwyd opslae gemaak en selfs die BBC het daaroor berig.

Froneman en Werner was Saterdag in die bystandsvliegtuig op pad na Malawi waar Megan, Driaan van den Heever en Hendrik Kotze op hulle gewag het om die laaste skof terug na Suid-Afrika saam aan te pak.

Megan, Van den Heever en Kotze sou Sondagmiddag laat van Malawi af Johannesburg toe vlieg.

Manda sê die oorsaak van die ongeluk sal deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) en die owerhede in Tanzanië ondersoek word.

Werner laat ook ’n 21-jarige dogter, Cindy, agter.

Froneman laat sy vrou, Nadia, en twee kinders van jonger as vyf jaar agter. – Netwerk24 en eie berig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!