u2018Tragedieu2019 wat met Eskom-mense gebeur
u2018Tragedieu2019 wat met Eskom-mense gebeur

‘Tragedie’ wat met Eskom-mense gebeur

Die voormalige hoof van brandstofaankope het getuig oor die “goeie” mense wat by Eskom verwyder is of bedank het.
Llewellyn Prince – Brian Molefe het kort ná sy aanstelling as uitvoerende hoof van Eskom volstrek geweier om die mynmaatskappy Glencore se aanbod van baie goedkoper steenkool uit sy Optimum-myn te aanvaar.

Destyds het Eskom geen ander goedkoper alternatief gehad nie, het Johann Bester, voormalige hoof van brandstofaankope, Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg getuig.

Hy het emosioneel getuig oor die “goeie” mense wat by Eskom verwyder is of bedank het en dat hy nie langer sy eie lynhoof, Vusi Mboweni, en Matshela Koko, destydse hoof van kragopwekking, kon vertrou wanneer hy belangrike steenkoolkontrakte moes herbeding nie.

“Dit was duidelik dat hulle my wou vervang.

“Dit is net ’n tragedie wat met mense gebeur het. Ek dink die laaste strooi was toe ek steeds gedink het ek kon ’n verskil maak omdat daar toe nog baie belangrike werk was wat gedoen moes word,” het hy in trane gesê.

Hy moes destyds die Glen­core-kontrak herbeding omdat die maatskappy tussen R60 miljoen en R100 miljoen per maand verloor het omdat hy steenkool toe nog teen R154 per ton aan die Hendrina-kragstasie in Mpumalanga verkoop het.

Bester het bereken dat R444 ’n redelik prys sou wees om te verhoed dat Optimum die prys dikteer wanneer die kontrak verstryk. “Daar was geen ander oplossing nie.”

Molefe het pas by Eskom aangesluit en Bester het by die topbestuur “gepleit” om nie toe te laat dat Optimum, wat 15 miljoen ton steenkool per jaar aan Eskom gelewer het en een van die grootste myne in Afrika was, moes sluit nie.

Hy het selfs voorgestel Eskom koop die myn.

Hy het getuig hoe hy dié argument saam met Mboweni aan Molefe voorgelê het.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier, wou by Bester weet of Molefe saamgestem het dat nog ’n langtermyn-kontrak met Optimum gesluit moes word.

Volgens Bester het hy dit duidelik gemaak aan Molefe dat Eskom geen ander alternatief het nie omdat dit fisiek onmoontlik sou wees om steenkool van elders vir die Hendrina-krag­stasie aan te ry.

“Hy (Molefe) het gesê ons moet ’n spoorlyn na Hendrina bou. Dit sou egter nie sin maak nie omdat die kragstasie in sy sluitingsjare sou wees wanneer die spoorlyn voltooi word. Hy het niks deurdink nie en dit duidelik gemaak dat hy nie met ons saamstem nie.”

Volgens Bester het Optimum kort daarna gesê hy is bereid om steenkool teen R300 per ton aan Eskom te verskaf, maar hy is versoek om dit te ignoreer.

Dit was R144 minder as wat Eskom aanvanklik wou betaal.

Molefe het in ’n “abnormale” stap die onderhandelinge oor die Optimum-kontrak by hom oorgeneem, het Bester getuig.

Die Guptas se Oakbay Investments het die Optimum-myn in 2015 by Glencore gekoop nadat Eskom Glencore met R2 miljard beboet het. Eskom het later ook opgehou om Optimum te betaal en die myn is daarom in sakeredding geplaas.

Gister het Ian Sinton van Standard Bank getuig hoe talle verdagte transaksies in die bankrekeninge van Gupta-verwante maatskappye daartoe gelei het dat die bank daardie rekeninge moes sluit. Hy het ook vertroulike inligting oor die transaksies aan die kommissie verskaf. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer