Transgender aanrandingsaak teen polisielid begin
Transgender aanrandingsaak teen polisielid begin

Transgender aanrandingsaak teen polisielid begin

Die ministerie van veiligheid en sekuriteit beweer die polisiebeamptes het bloot hul pligte uitgevoer.
Sanet de Waal
Jana-Mari Smith – Die verhoor waarin 'n transgender Namibiër 'n klag van aanranding teen 'n polisiebeampte aanhangig gemaak het, het Maandag in die hoërhof in Windhoek begin.

Sy dagvaar die ministerie van veiligheid en sekuriteit vir N$200 000 se skadevergoeding.

Me. Jasper Cloete, 'n transgender vrou wat as Mercedez von Cloete identifiseer, het in 2017 die saak teen die ministerie van veiligheid en sekuriteit aanhangig gemaak.

Sy beweer 'n polisiebeampte het haar omstreeks 02:30 op 6 Julie 2017 aangerand nadat sy kos by KFC in Windhoek se middestad gekoop het.

Cloete sê 'n polisiebeampte in gewone klere het haar, nadat hy haar in 'n polisievangwa gelaai het, geboei en aangerand. Die polisiebeampte wat net as “officer Kavari” geïdentifeer is, het haar glo herhaaldelik fisiek in die vangwa aangerand en neerhalende opmerkings oor haar geslagsidentiteit gemaak.

'n Vriend van Cloete was 'n getuie van die voorval en was saam met haar in die polisievangwa.

Sy is na 'n nabygeleë polisiekantoor geneem en is weer buite die polisiekantoor aangeval. Sy is glo geslaan en geskop omdat sy daarop aangedring het om te weet waarom sy in hegtenis geneem is.

Die voorval voor die polisiekantoor is op CCTV-kameras vasgevang en op grond daarvan het die polisie bevestig daar was 'n fisieke konfrontasie tussen Cloete en die beampte.

Die polisie voer aan Cloete het vir Kavari eerste aangeval en hom uitgelok. “Kavari het in selfverdediging opgetree toe hy die eiser (Cloete) geslaan het. Sy het daarna neergeval en na (haar) asem gesnak,” het die polisie gesê.

In hofstukke erken die polisie Kavari het sedert die aanval hul diens verlaat en kan nie opgespoor word nie.

In haar verklaring sê Cloete haar vriend het haar opgetel en in die polisiekantoor ingedra.

Hulle wou die beweerde aanranding aanmeld, maar is aangesê om die volgende dag terug te keer om 'n saak aanhangig te maak.



VERDEDIGING

Die ministerie van veiligheid en sekuriteit ontken enige oortreding.

Hulle beweer die beamptes het bloot hul pligte uitgevoer “deur die eiser, wat in 'n openbare plek oproerig was, te verwyder”.

Hulle voer aan die emosionele trauma wat Cloete ná die aanranding ervaar, is “self toegedien” en die polisie kan nie aanspreeklik gehou word nie.

In hul pleidooi gee die ministerie toe 'n “konstabel Shivera, konstabel Kavari en mnr. Isaak van die buurtwag” – wat aan diens was – het by die KFC gestop om kos te koop.

Kavari en Isaak beweer hulle het gesien hoe Cloete 'n openbare oproering veroorsaak en hulle het haar glo gevra om te bedaar. Sy het na bewering geweier om te kalmeer en hulle het haar in hegtenis geneem.

Hulle sê dit het gelyk of sy onder die invloed was en sy het gedreig om hulle met pepersproei te spuit. Hulle beweer ook sy was in die vangwa verder oproerig.



AFGRYSLIKE BEELDMATERIAAL

'n Vriendin van Cloete, me. Laurika Letitia Williams, wat haar in die dae ná die aanval bygestaan het, het vir die hof gesê sy was “geskok” toe sy die CCTV-opname die eerste keer gesien het.

“Ek het gesien hoe die eiser (Cloete) wreedaardig deur 'n polisiebeampte aangerand word. Die beampte op die beeldmateriaal was veel groter van liggaamsbou as die eiser.

“Die eiser se vriend wat teenwoordig was, het in 'n stadium probeer ingryp, maar het misluk.”

Volgens Cloete was daar ander polisiebeamptes wat naby gestaan het toe die aanval plaasgevind het, maar geweier het om in te gryp.

“Die beeldmateriaal was uiters moeilik en aaklig om na te kyk. Na my mening verdien die eiser geregtigheid. Die eiser was ontsteld en ooglopend getraumatiseer, selfs ná die aanranding; sy was baie dapper om terug te keer na die polisiekantoor waar die voorval plaasgevind het,” het Williams gesê.

Williams sê in die nasleep van die aanval het Cloete in voortdurende vrees geleef en “het aansienlik verander van die persoon wat ek voor die voorval geken het”.



VREES VIR DIE POLISIE

Cloete het die hof sedert die aanval in kennis gestel sy is “baie kwaad vir die stelsel en die manier waarop dinge gedoen word”.

“Net omdat ek myself anders voordoen, is dit blykbaar aanvaarbaar om my aan te rand. Ek is baie teleurgesteld dat die polisie, wat die oppergesag van die reg moet handhaaf, nou diegene is wat ek die meeste vrees.”

Sy het bygevoeg die voorval is nie deur die polisie ondersoek nie.

Cloete sê die feit dat sy aangerand is bloot omdat sy hoender gekoop het, het veroorsaak dat sy voortdurend in vrees leef dat 'n soortgelyke insident enige tyd kan gebeur.

Hoërhofregter Esi Schimming-Chase sal die hofverrigtinge waarneem. Cloete word deur me. Unomwinjo Katjipuka-Sibolile van Nixon Marcus Public Law Office verteenwoordig, terwyl die polisie deur 'n staatsprokureur verteenwoordig word.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!