Transito-rowers skuldig
Transito-rowers skuldig

Transito-rowers skuldig

Verskillende weergawes oor geld
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Regter Naomi Shivute het gister vir Jan Julius medepligtig aan roof, met verswarende omstandighede, van N$3 710 000 en George Jambeinge aan diefstal van N$1 515 000 skuldig bevind.
Die saak teen Julius en Jambeinge spruit uit ’n transitoroof wat op 29 Desember 2004 in die omgewing van Brakwater buite Windhoek plaasgevind het. Hulle het met altesame N$5 735 000 op die vlug geslaan, waarvan N$3,39 miljoen later in Suid-Afrika gevind is. Dit is die grootste enkele bedrag geld wat nog ooit in Namibië tydens ’n gewapende roof gebuit is.
Shivute het in haar uitspraak gesê dit is ’n onbetwiste feit dat Julius die bestuurder van die Fidelity Services Group-voertuig was waarin geld van First National Bank, Bank Windhoek en Nedbank vervoer is. Sy het verder gesê Julius het van sy gewone roete afgewyk om ’n ryloper op te laai, terwyl hy bewus daarvan was dit ontoelaatbaar is en boonop wanneer ’n groot bedrag geld in transito is. Hy het uit die voertuig geklim en met die persoon gepraat. Daarna het die ryloper in die voertuig geklim en Julius se kollega, mnr. Stefanus Iyambo, begin aanrand. Julius het hom nie te hulp gesnel nie. Die geld wat na banke in Karibib en die kus op pad was, is so geroof.
Die hof moes dus beslis of Julius in samewerking met die rowers op­getree het. Shivute het in haar uitspraak gesê dat Julius se getuienis onwaar­skynlik is en verwerp behoort te word. Shivute het gesê Julius het onregmatig en doelbewus opgetree en was sodoende medepligtig aan die roof.
Shivute kon nie genoegsame bewys vind dat die tweede beskuldigde, Jambeinge, aan die rooftog deel­geneem het nie, maar ’n bedrag van N$1 515 000 is in ’n motor gevind waaroor hy beheer gehad het. Hy was dus in besit van geld wat met die rooftog verbind is en hy kon geen redelike verduideliking gee hoe hy in besit daarvan gekom het nie. Hy het twee weergawes aan die hof vertel: Eers dat ene Sunnyboy Emvula vir hom die geld gegee het en toe dat hy nie van die geld in die motor bewus was nie.
Volgens regspraak oor onlangse besit wat in Namibiese howe toe­gepas word, is die hof geregtig om af te lei dat Jambeinge die geld gesteel het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!