TransNamib-voorsitter krap raad om
TransNamib-voorsitter krap raad om

TransNamib-voorsitter krap raad om

Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die nuwe voorsitter van die TransNamib-raad meng volgens die uitvoerende bestuur van dié instansie oormatig by die alledaagse bestuur van die maatskappy in en systap in die proses die topbestuur.
TransNamib se hoof uitvoerende beampte, mnr. Hippy Tjivikua, het op 3 Mei namens die uitvoerende bestuur ’n brief aan die minister van werke en vervoer, mnr. Alpheus !Naruseb, en die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, gerig waarin gekla word oor mnr. Paul Smit se “oormatige betrokkenheid by die daaglikse bedryfsaktiwiteite en individuele uitvoerende rolle en funksies”.
Smit word daarvan beskuldig dat hy die rol van uitvoerende voorsitter oorgeneem het en vir homself ’n kantoor op die maatskappy se perseel ingerig het waar hy daagliks vanaf 08:00 tot 17:00 werk. Volgens Tjivikua gee Smit op ’n daaglikse basis opdragte aan personeel om bedryfsverslae oor kontantvloei, lokomotiewe se werkverrigting en voorvalverslae in te dien. Na bewering deel Smit ook ander opdragte aan personeel uit.
Om sake te verger, sê Tjivikua, het Smit direk betrokke geraak by TransNamib se kliënte, onder meer Ohorongo Cement, Henning Crusher, Dundee Precious Metals en die B2Gold-myn.
Smit het na bewering ingestem dat TransNamib sement van Sargberg na die Neckartaldam vervoer teen só ’n lae tarief dat dit nie vir die maatskappy winsgewend is nie.
Voorts word beweer dat Smit met eiendomsontwikkelaars onderhandel oor die maatskappy se eiendom, sonder die raad en die bestuur se kennis en insae.
In die brief word ook aangevoer dat Smit ’n ingenieurspan van TransNet, TransNamib se Suid-Afrikaanse eweknie, na Ohorongo Cement geneem het waar hy die lae tariewe wat geïmplementeer moet word, “afgedwing” het. Dit het blykbaar ontaard in ’n ernstige meningsver­skil tussen Smit en TransNamib se bestuur wat in die openbaar oor die prys verskil het.
Tjivikua het voorts gekla dat Smit nie luister na die bestuur se professionele raad nie, vergaderings oorheers, bestuur uitsluit en opbouende kritiek ignoreer.
Smit het blykbaar ook die opdrag gegee dat ’n ander sakeplan opgestel moet word, ten spyte van die feit dat die kabinet en die ministerie van werke en vervoer konsultante aangestel het om ’n sake- en strategiese plan op te stel.
“Die voorsitter dwing aanhoudend sy denkwyse oor die nuwe, korporatiewe struktuur af. Dié struktuur sal nadelige gevolge vir die maatskappy hê,” het Tjivikua in die brief gesê.
Smit het skynbaar selfs die administratiewe pligte van die maatskappy se sekretariaat oorgeneem en die maatskappysekretaris, me. Eugenia Tjaronda, se verlof goedgekeur sonder die hoof uitvoerende beampte se medewete.
Mederaadslede het glo hul kommer oor Smit se eensydige besluitneming en direkte betrokkenheid by die bestuur van die maatskappy uitgespreek.

JOOSTE VERWAG WONDERWERK
Toe hy vir kommentaar oor die kwessie genader is, het Jooste gesê TransNamib ondergaan tans ’n “baie gekompliseerde, traumatiese tydperk wat nie ontken of vermy kan word nie”.
Hy het gesê die voormalige hoof uitvoerende beampte, me. Saara Naanda, se vertrek het ’n “uiters komplekse maatskappy agtergelaat met ’n reusevakuum op uitvoerende vlak”, wat meebring dat die raad “meer betrokke moet wees as wat eintlik wenslik is”.
“Die nuwe raad moes homself inderhaas inlig oor selfs die kleinste besonderhede, en ’n geweldige tekort aan institusionele inligting beteken dit moet baie nóú betrokke wees.
“Ons verwag ’n wonderwerk by TransNamib en ons is vol vertroue dat die nuwe raad oor die nodige vaardighede beskik om hierdie maatskappy in ’n effektiewe en uiteindelik winsgewende entiteit te omskep,” het Jooste gesê.
Smit het by navraag ontken dat hy by die dag-tot-dag-administrasie van TransNamib betrokke is en het dit duidelik gestel dat sy insette bloot ten doel het om die maatskappy suksesvol te maak.
“Ons het ’n situasie om te bestuur. Bestuur beteken nie dat jy elke dag daar is nie, maar dat jy daagliks betrokke is,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat hy geen voorneme het om die uitvoerende hoof van die maatskappy te word nie.
Die direksie is tans besig om ’n onafhanklike maatskappy te vind om die werwingproses vir ’n nuwe hoof van TransNamib te behartig.

Kommentaar

Republikein 2024-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Loading... #N/A Loading...