• Tuisblad
  • Sake
  • Transnet-fonds kry R639 m. terug van Gupta-firmas
Transnet-fonds kry R639 m. terug van Gupta-firmas
Transnet-fonds kry R639 m. terug van Gupta-firmas

Transnet-fonds kry R639 m. terug van Gupta-firmas

Francois Williams – Goeie nuus vir Transnet-pensioentrekker is die R639?miljoen wat die Transnet-tweedevastevoordeelfonds uit ’n skikking met die Gupta-verwante Regiments Capital gekry het.

En daar is moontlik nog R200?miljoen wat na die fonds se kant kan kom.

Die pensioenfonds het Donderdagaand laat weet Regiments Capital en verwante partye het hom sowat R530?miljoen terugbetaal as deel van ’n skikkingsooreenkoms.

Dit spruit uit bedrieglike transaksies van Regiments met die fonds wat die fonds aanvanklik R825?miljoen laat verloor het.

Die totale waarde wat die fonds egter uit die skikking gekry het, is R639?miljoen, danksy 810?228 Capitec-aandele wat hy van Coral Lagoon, ’n filiaal van Regiments, gekoop het. Volgens Moeti Kanyane Prokureurs, wat namens die fonds optree, het die fonds die aandele teen ’n markverwante prys gekoop op terme wat hom ’n ekstra sowat R100?miljoen in die sak gebring het.

Die skikkingsooreenkoms is boonop so gewysig dat Capitec se toestemming vir die verkoop van die aandele nie nodig was nie. Capitec het vroeër beswaar gemaak teen die verkoop van sy aandele deur Coral Lagoon omdat dit volgens hom sy bemagtigingstatus sou verwater, en volgens Capitec moet hy eers goedkeur dat die aandele verkoop mag word. Die hooggeregshof het vroeër vandeesmaand beslis dat Capitec sy toestemming moet gee, maar Capitec het om verlof tot appèl aansoek gedoen, wat van die hand gewys is. Volgens Moeti Kanyane Prokureurs het Capitec hom tot die appèlhof gewend en dié aansoek is nog hangende. Eerder as om tot volgende jaar te wag totdat dié aansoek hanteer word, is besluit om die skikking aan te pas.

Nog eise

Die fonds het nog eise teen Eric Wood, direkteur en aandeelhouer in Regiments, asook teen Kuben Moodley, ’n sakekontak, en Tebogo Leballo, finansiële hoof van die Gupta-verwante firma Trillian. Volgens die prokureurs bedra dié eise sowat R200?miljoen en verwag hulle dit kan teen volgende jaar afgehandel wees. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer