Transpyr nie vir sissies nie

Die Pireneë-bergreeks was vir die Namibiërs 'n erger uitdaging as die Cape Epic.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Frikkie van Greunen en Wim Steenkamp is veilig tuis nadat hulle onlangs in Spanje oor sewe dae 'n totaal van 57 uur 21 minute op die fietssaal bestee het om die 770 kilometer van die Transpyr Kus tot Kus bergfietsuithourit te voltooi.

Spanlede 076A en 076B, geborg deur Obeco en Hansgrohe SA, is gesoute bergfietsryers wat reeds die Namibiese gebergtes en die gedugte Cape Epic kafgedraf het, maar die 2018 Transpyr word deur dié twee as moordend bestempel.

Op sy webtuiste www.transpyr.com skryf die organiseerders: “Om eerlik te wees, daar is geen maklike dele nie. Ons vra almal mooi om eerder daarop te fokus om die uithourit veilig te voltooi en kompetisie op die agtergrond te skuif. Om hierdie sewe roetes suksesvol te voltooi, sal op sigself 'n prestasie waarop elkeen baie trots kan wees.”

Van Greunen en Steenkamp het van hul wedervaringe in Spanje vertel.

“Wat lekker is, is die hele opbou na die byeenkoms wat dinge interessant maak, asook die sielkundige voorbereiding wat elkeen mee besig is. Die voorbereiding van die fietse, die resies wat jy in jou kop ry terwyl jy probeer om die terrein te visualiseer en al die ure in die saal. Die dag as jy op die vliegtuig sit, dan besef jy jy kan nie beter voorbereid wees as wat jy is nie.

“Ons het van Windhoek na Johannesburg en van daar na Barcelona gevlieg. Ons het gou nuwe vriende gemaak en die aand in Roses die tradisionele pizza en San Miguel-tapbier probeer. Die fietse is aanmekaar gesit en 'n roete is gery om ons navigasietoerusting te toets.

“Die Saterdagaand voor die wegspring het ons die amptelike opening bygewoon en vinnig geleer die Spanjaarde hou daarvan om laat te eet. Gelukkig het ons die eerste nag soos klippe geslaap en was die volgende oggend vars, maar senuagtig terwyl sneeubedekte pieke ons in die verte ingewag het.

“Dag een was 113 km lank met modder, baie modder. Jeep-paaie, enkelspoor- en bospaadjies waar ons teen hellings van 20 en 25 grade moes uitsukkel. Op 83 km is 'n tydseksie ingewerk en ná net 17 km het ons besef dié resies is nie vir sissies nie!

“Ons het die dag veilig afgesluit, redelik geskud deur die dag se ervaring, maar gereed vir wat voorlê. Ek en Wim het gaan sit en 'n aksieplan uitgewerk om ons deur die volgende ses dae se roete te neem, want in Namibië is niks wat jou op die Pireneë kan voorberei nie!

“Ons het elke aand op die vloer in 'n dorpie se sportsaal geslaap wat deur 'n skool of munisipaliteit bestuur word. Dit was eers ná die sesde dag in Ronchesvalles wat ons soos konings op 'n bed in 'n houthut kon slaap en vir die eerste keer weer in warm water kon stort.

“Die pasta- en rys-etes gedurende die dag het ons oorlewingsboeie geword om elke skof suksesvol te voltooi en nie een kos- of waterpunt is misgery nie. Tydens die Cape Epic kon ons wel bloot by sulke punte verbyry, maar in die Transpyr het jy elke greintjie energie nodig om jou aan die gang te hou.

“Ons is deur menige ou dorpies met nou gangetjies, voetgangerpaadjies en smal stegies waar kerke en kloosters langs riviere en bergpasse gehurk het. Die mooiste panoramas en natuurtonele het ons verwelkom wanneer ons bene op hul moegste en seerste was.

“Dit was belangrik om kalm en gefokus te bly. Reg te eet en te drink asook jou immuunstelsel sterk te hou. Slaap is belangrik en met 'n uithourit soos dié moet jou fiets skoon wees en glad loop. Ons was gelukkig om net een keer verslete remblokkies te vervang.

“Ons hardste dag het klimdele van altesame 3 300 meter ingesluit waar ons soms die fietse oor boomstompe en rotse moes stoot en seker maak ons het genoeg krag in die bene oor om die mal klimme te takel.

“Die Spaanse mense was wonderlik hulpvaardig. Van die masseerders tot die kampadjudant wat slaapwandelaars veilig terug na hul slaapsakke moes lei, het hul bes gedoen. Al kon ons nie 'n woord verstaan nie, het hulle nie eens kwaad geword as hulle iets aan ons probeer verduidelik het nie.

“Die verwelkoming by die eindstreep in Hondarribia was eenvoudig fantasties waar dit langs San Sebastian met marinas en wandelpaadjies geleë is. Die organiseerders het gebraaide vissies en Spaanse appelwyn voorgesit wat met verouderde en dun gesnyde Jambon de Bayonne-ham afgerond is.

“Ek en Wim het ons medaljes en oorwinningstruie ontvang en vir twee dae geslaap en geeet alvorens ons huiswaarts gekeer het.

“Ons het wonderlike vriende gemaak en meestal was dit ouens soos ons met wie ons saam gery het en wat ons na byeenkomste in Israel, Chili, België, Duitsland en Brittanje genooi het. Ek en Wim gaan 'n paartjie van Brittanje ontvang wat die 2019 Klein-Aus Vista-ren wil ry en dan is daar die Dene wat vanjaar die Nedbank Desert Dash wil ry.

“Baie dankie aan Hansgrohe en Obeco wat ons geborg het, ons familie en vriende tuis, ons bergfietsvriende wat ons aangespoor het. Dit was lekker om ons vriende Derrick Langford en Peter le Riche by ons te hê wat die tweede deel van die Transpyr tot by die kus gery het.

“Om te kon klaarmaak, was net dissipline, bietjie geluk en die waardering van klein dingetjies soos 'n warm stort of 'n waterpunt op die hoogste piek. Ons het lekker mense ontmoet en saam klippe gekou. Sonder ons borge en steun van familie en vriende sou dit nie moontlik gewees het nie en ons is baie dankbaar daarvoor!” skryf die duo.

Steenkamp en Van Greunen beplan om weer in 2020 'n uithourit soos die TransPortugal of Ironbike Italy aan te durf.

Om soos dié twee Namibiërs 770 km van onbegaanbare paadjies teen 'n gemiddelde snelheid van 22.5 kilometer per uur af te lê, wil inderdaad gedoen wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!