‘Tree gekoördineerd, datagedrewe op’
Die Suider-Afrikaanse reis- en toerismebedryf is die naweek ’n “lyfskoot” toegedien, sê die vereniging vir rederye in die streek.
Ronelle Rademeyer
Die uitvoerende hoof van die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata), mnr. Willie Walsh, sê regerings moet nie in “noodmodus” optree nie, maar die ondervinding en kennis van die afgelope twee jaar op ’n “gekoördineerde, data-gedrewe grondslag” vir besluitneming inspan.
Hy het die naweek skerp reageer op die Verenigde Koninkryk (VK) en ander lande se besluit om vlugte vanaf en na Suid- en Suider-Afrika in te perk.
Teen Saterdag het Brittanje, Amerika, feitlik alle Europese lande, Japan, Israel en nog ander lande aangekondig mense uit Suid-Afrika en sy buurlandse soos Namibië en Botswana mag nie daarheen reis nie.
Lande het die reisbesperkings afgekondig selfs al is die Omicron- of B.1.1.529-variant van SARS-CoV-2 reeds ook in ander dele van die wêreld by mense met Covid-19 geïdentifiseer.
“Regerings reageer op die risiko’s van die nuwe coronavirusvariant in noodmodus wat vrees onder die reisende publiek veroorsaak.
“Ons moet so vinnig as moontlik die ervaring van die afgelope twee jaar gebruik om na ’n gekoördineerde, data-gedrewe benadering te beweeg en veilige alternatiewe vir die sluitings van grense en kwarantyn vind. Reisbeperkings is nie ’n langtermynoplossing om Covid-variante te beheer nie,” het Walsh in ’n verklaring gesê.
Die Lugrederyevereniging van Suider-Afrika (Aasa) het ewe skerp op die streng reisbeperkings reageer.
“Terwyl ons elke nasie se soewereine reg respekteer om enige maatreëls te implementeer wat hy goeddink om die verspreiding van Covid-19-variante te bekamp, doen ons ’n beroep op Whitehall (Britse regering) om wat blyk ’n haastige besluit was, te heroorweeg,” het Aasa se uitvoerende hoof, mnr. Aaron Munetsi, Vrydag versoek.
Hy het gewys op die gebrek aan gedetailleerde kennis en inligting oor die nuut-geïdentifiseerde variant, die verspreiding daarvan en die doeltreffendheid van entstowwe om ernstige siekte by mense te voorkom.
“Met sy aankondiging dien Brittanje ons streek se reis- en toerismesektor ’n lyfskoot toe. Dit plaas besighede sowel as tienduisende werksgeleenthede en baie meer mense se lewensbestaan in gevaar,” het hy gesê.
Volgens hom het vlugte vir sake- en ontspanningsreise in Suider-Afrika nou eers tekens van herstel begin sien, aangesien regerings toenemend begin ontspan het en probeer om hul reisvereistes en -maatreëls te vereenvoudig.
Munetsi sê dit is ’n groot terugslag vir rederye en sulke eensydige besluite skep ’n kommerwekkende presedent.
Statistieke van die impak van die pandemie op rederye in Suider-Afrika toon die streek se verbinding met die res van die wêreld het met 80% gedaal as gevolg van reisbeperkings. Die totale binnelandse, streek- en interkontinentale vraag na vlugte het teen die begin van November 2021 tot ongeveer 40% van die reisverkeersvlakke vóór Covid herstel, met binnelandse en streekvlugte wat die herstel gelei het.
Aasa sê in sy verklaring voor die naweek se gebeure is voorspel dat internasionale vlugte na en vanaf Suider-Afrika eers teen 2025 na die 2019-vlakke sou terugkeer.
PLAASLIK
Mnr. Dan Kamati, woordvoerder van die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC), het intussen gister by navraag gesê Eurowings Discover se vlug Saterdag vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako kon nog sonder enige beperkende maatreëls vertrek.
Vanaf gisteraand kon net Duitse burgers en mense met permanente verblyf in Duitsland egter ingevolge dié land se nuwe maatreëls met Eurowings na Duitsland vlieg.
Volgens Kamati het die ander rederye wat na Namibië vlieg, Airlink, Ethiopian Airlines en TAAG Angola Airlines asook die Namibiese redery, FlyNamibia, teen gister nog geen wysigings aan vlugskedules aangekondig nie.
Die Angolese regering het gister aangekondig sy grense sluit op 1 Desember vir mense uit Namibië, Botswana, Zimbabwe, Malawi, Suid-Afrika en eSwatini. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie