Tref-en-trapdrywer bly in aanhouding

Die landdros wou gister nie besgee op die verdediging se aanbeveling dat die beskuldigde in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem word nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Poging tot moord is die hoofklag waarop die 31-jarige mnr. Ruandre Wessels tereg staan ná sy eerste verskyning gisteroggend in die Windhoekse landdroshof.

Wessels is Saterdag in hegtenis geneem enkele ure nadat hy in die vroeë oggendure na bewering agter die stuur van sy Citroen me. Leandri van der Walt (25), 'n nasio­nale netbalspeler, gestamp en vier keer bo-oor haar gery het voordat hy van die toneel weggejaag het.

Van der Walt, met skrape en beserings oraloor haar lyf, is steeds in die hospitaal en is erg getraumatiseer. Sy dra onder meer 'n nekstut weens 'n gebreekte nekwerwel.

Wessels het met 'n geswelde blouoog opgedaag – klaarblyklik die gevolg van 'n afsonderlike voorval in die vroeë oggendure Saterdag, voordat sy pad weer by 'n vul­stasie in Talstraat met Van der Walt en haar vriend mnr. Xico Coetzee gekruis het.

Sy regsverteenwoordiger, mnr. Christie Mostert, het Ruandre se ouer broer, Charll, as getuie aan landdros IJ Gawanab laat verduidelik hoekom die hof Ruandre se geestestoestand in ag moet neem.

Charll het getuig die twee het in 'n wanfunksionele huishouding grootgeword, met geskeide ouers en 'n afwesige pa. Hul suster het op ­15-jarige leeftyd haarself om die lewe gebring en Ruandre is op 'n jong ouderdom met depressie en bipolêre versteuring gediagnoseer.

“Ruandre is al vir jare geestelik ongesteld en hoewel dinge vir 'n klompie maande redelik goed gegaan het, het hy onlangs weer aan ons ma gesê hy worstel met selfdoodgedagtes.”

Charll het bygevoeg hy sien bykans sy hele lewe reeds na Ruandre se welsyn om en die beskuldigde sal volgens hom nie in die tronk oorleef nie.

Gegewe sy selfdoodgedagtes is die kanse nie uitgesluit dat hy moeilikheid met ander gevangenes as 'n uitweg kan kies nie, het hy gesê.

Charll en Mostert het verklaar die familie is bereid om vir Ruandre se waarneming by 'n psigiatriese ­hospitaal (onder polisiebewaking) te betaal.

Ná 'n kort onderbreking vir beraadslaging het landdros Gawanab gesê die stasiebevelvoerder het onderneem om die beskuldigde se veiligheid in aanhouding te verseker.

Wessels, wat ook aangekla word van roekelose bestuur en die versuim om die skade van 'n ongeluk vas te stel, bly dus in aanhouding.

Die saak is tot 5 Mei volgende jaar vir verdere ondersoek en die afhande­ling van Wessels se sielkundige evaluering uitgestel.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!