Trein loop heeldag op 1 tenk waterstof in Duitsland
Die waterstofbrandstofselle se omskepping van waterstof en suurstof lewer ’n elektriese stroom, wat die treine besonder omgewingsvriendelik maak.
Francois Williams – Lees dit en ween, Metrorail! Die Europese treinvervaardiger Alstom het Sondag die heel eerste kommersiële passasierstrein ter wêreld wat waterstof-brandstofselle as energiebron gebruik, in bedryf gestel.
Die Coradia iLint, wat in Salzgitter, Duitsland gebou is, is Sondag in Neder-Sakse op ’n roete oor bykans 100 km tussen die Duitse stede Cuxhaven, Bremerhaven, Bremervörde en Buxtehude in diens gestel. Dit is in die noorde van Duitsland wes van Hamburg. Cuxhaven is 'n hawestad naby die monding van die Elberivier.
Twee treine sal van Maandag af die roete bedien.
Die waterstofbrandstofselle se omskepping van waterstof en suurstof lewer ’n elektriese stroom wat beteken die treine het geen besoedelende kweekhuisgasvrystellings nie.
Die trein vervang die streektreindiens EVB se bestaande vloot van dieselaangedrewe treine op dié roete.
Die nuwe treine sal deur ’n mobiele waterstofvulstasie gediens word, lui ’n verklaring deur Alstom.
’n Trein kan heeldag met een tenk waterstof klaarkom.
’n Permanente vulstasie sal in 2021 in bedryf gestel word wanneer Alstom nog 14 Coradia iLint-treine aan die Duitse spoordiens LNVG teen meer as €81 miljoen lewer.
Dié geruislose treine kan ’n snelheid van tot 140 km/h bereik.
“Die Coradia iLint lui ’n nuwe tydvak van kweekhuisgas-vrye spoorvervoer in. Dit is ’n innovering wat uit Franse en Duitse spanwerk spruit en dit illustreer suksesvolle oorgrenssamewerking,” het Henri Poupart-Lafarge, voorsitter en uitvoerende hoof van Alstom, op die amptelike bekendstellings gesê.
Die treine is ’n klimaatvriendelike alternatief vir konvensionele dieseltreine op veral nie-geëlektrifiseerde spoorlyne, het dr. Bernd Althusmann, Neder-Sakse se minister van ekonomie en vervoer, gesê.
Die toetsprojek is deels deur die Duitse federale regering gefinansier. Carmen Schwabl, uitvoerende hoof van LNVG, sê 120 dieseltreine in sy vloot sal oor die volgende 30 jaar die einde van hul gebruiksleeftyd bereik en die waterstofsel-projek sal waardevolle ervaring bied oor volhoubare en praktiese oplossings waarmee dit vervang kan word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie