Treinongeluk: 7 uit hospitaal ontslaan

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - In ‘n treinongeluk gisteraand omstreeks 23:00 tussen Tses en Asab is agt mense beseer en na hospitale op Keetmanshoop en Mariental afgevoer.

Volgens hoofinsp. Douglas Hanze, waarnemende hoof van koördinering van misdaadondersoeke in die ||Kharasstreek, is daar geen sterftes nie en is sewe beseerdes reeds uit hopitale ontslaan.

Volgens Hanze is slegs die mededrywer van die trein nog in die hospitaal op Keetmanshoop, maar sy toestand word as stabiel beskryf.

Vyf vroue en drie mans is tydens die ongeluk beseer wat by die Brukkarosbrug, sowat 125 km vanaf Keetmanshoop, plaasgevind het.

Vermoedelik het die afgelope week se swaar reën in die Suide meegebring dat spoor weggesak en die ongeluk plaasgevind het.

Volgens die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, was daar 59 volwasse passasiers, drie TransNamib-beamptes en meer as 80 kinders aan boord.

Sy sê die beserings van passasiers wissel van geen, lig tot ernstig.

“Dit was baie moeilik om die toneel met voertuie bereik, weens die onlangse swaar reën en vloede, maar die polisie se reserwemag het ondersteuning gebied,” het Shikwambi gesê.

Die passasiers se Kersfeesplanne is in die wiele gery. Een van die insittendes, mnr. Fabian de Kock van Keetmanshoop, het vanoggend vanaf die ongelukstoneel telefonies aan Republikein gesê die meeste van die was op pad na hul families vir die feestyd.

Hy, sy broer en dié se vrou en kinders was vanaf Keetmanshoop met die trein op pad na Mariental, waarna hulle na Stampriet sou gaan om Kersfees by hul familie te vier.

Hulle was vanoggend teen 08:00 van die sowat 20 passsasiers wat nog steeds langs die pad vir vervoer gewag het.

“TransNamib het van vanoggend vieruur vir ons belowe dat bussies gestuur sal word. Ons het die hele nag nie ‘n oog toegemaak nie. Ons is honger en dors en die son brand reeds warm,” het De Kock gesê.

Terwyl Republikein met hom gesels het, het vervoer van TransNamib wel opgedaag.

De Kock sê die Namibiese polisie was op die toneel en ander passasiers het saam met die nooddienste en ander voertuie in die nag saamrygeleenthede gekry.

Hy sê daar was baie bejaardes en kinders op die trein.

Oor die nagmerrievoorval sê De Kock die lokomotief het in die grond in geduik en een passasierswa hang in die lug.

-[email protected]

Foto's Fabian de Kock en verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!