Trio op peil in Noord-Afrika
Trio op peil in Noord-Afrika

Trio op peil in Noord-Afrika

Boogskiet
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Frank Reddig (afrigter) en Marja Woortman (bestuurder) is tans saam met Quinn Reddig, Adriaan Grobler en CF Brandt in Algerië by die 2018 Afrika Jeugspele waar die eerste pyle vandag by Prise d'eau Bourouba in Algiers gaan vlieg.

Net die terugbuigboogdissipline word in dié byeenkoms deur die Internasionale Olimpiese Komitee aangebied en dit is hoekom net dié drie spesialiste Namibië verteenwoordig.

Die twee Reddigs en Brandt is reeds 'n hele ruk in Algerië waar die deelnemers en breier 'n weeklange oefenkamp bygewoon het en behoorlik kon akklimatiseer.

Frank Reddig verduidelik die oefenkamp is deur 'n Italiaanse kenner aangebied, waarby die span geweldig gebaat het.

“Ons drie deelnemers is baie goed voorberei, hulle is positief en oorgehaal om goed te vaar, want ons het 'n baie goeie kans by die kadetafdeling vir meisies- en seuns om met die terugbuigboog te presteer en vir die Olimpiese Jeugspele te kwalifiseer.

“Dit is baie warm en winderig hier, met hoë humiditeit en natuurlik is ons nie gewoond daaraan nie. Gelukkig skiet almal in dieselfde omstandighede en ons is reg daarvoor.

“Die kompetisie begin (vandag) om 10:00 Namibiese tyd. Namiddag gaan die gemengde spanne afgehandel word waar een meisie en seun saam kompeteer. Vrydag sal die uitdunrondes vir individuele skuts plaasvind en sal die kampioenskap verder vorder.

“Die oefenkamp was baie positief en goed. Ons het die gesoute Filippo Clini van Italië gehad wat dit aangebied het en die kinders het bitter baie daar geleer en ons is gelukkig om dié ervaring te kon opdoen.

“Ons bedank graag die Namibiese Boogskietvereniging asook die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee wat dit vir ons moontlik gemaak het om hier te kan deelneem,” het die afrigter aan Republikein gesê.

Brandt (16 jaar) is 'n leerder aan Welwitschia Privaatskool, Grobler (17) is by Windhoek Hoërskool terwyl Reddig (16) by Tsumeb Gimnasium skoolgaan.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer