Troeteldiere op Elisenheim vergiftig
Troeteldiere op Elisenheim vergiftig

Troeteldiere op Elisenheim vergiftig

Tienerseuns is na bewering die kwajongens.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Inwoners van die Elisenheim-landgoed is woedend oor ten minste elf troeteldiere wat onlangs vergiftig is.

’n Bekende Windhoekse sakeman en inwoner van die spoglandgoed noord van Windhoek, mnr. Pieter Senekal, het ’n beloning van N$5 000 uitgereik om die skuldiges vas te trek. Hy het selfs ’n private speurder aangestel om die saak te ondersoek.

“Ons het die verdagtes – drie tienerseuns – geïdentifiseer. Hulle en hul ouers sal ondervra word en dan sal klagte by die polisie en Dierebeskermingsvereniging (DBV) aanhangig gemaak word,” het Senekal aan Republikein gesê.

Blou korrels gif word glo in maalvleisballetjies gerol en in erwe gegooi.

“Daai blou korrels is wolwegif en is baie sterk,” sê ’n man.

Senekal sê die grootste kommer is die gevolge indien klein kinders die gif sou inkry.

’n Vrou beaam dit: “En as kinders in kontak met hierdie blou pilletjies en beskuitjies kom? Dan begrawe ons later ons kinders.”

Nog ’n inwoner sê: “Ons het vroeër in Julie vreemde beskuitjies in ons erf gekry. Ons het al ons bure gevra, maar hulle het geen kennis daarvan gedra nie.”

“My hond gooi al vir ’n week op en ek wonder of hy ook vergiftig is,” wonder ’n woedende inwoner.

’n Ander inwoner sê die skuldiges of hul ouers moet pa staan vir al die veeartsrekeninge van hul troeteldiere.

“Ai dit is regtig hartseer. Dink net hoe die arme diere gely het. Ek hoop hierdie mense word van Elisenheim af verban. Mens het hier gekoop om in vrede te bly en nie deur sulke hartelose mense geterroriseer te word nie,” skryf ’n inwoner op Elisenheim se gemeenskapsblad op Facebook.

’n Dassie is ook al op die landgoed doodgemaak. Vir jare verdwyn katte net spoorloos, terwyl draadstrikke en beendere ook al gevind is.

Volgens een inwoner is die Cat Protection Society (CPS) ook bewus van die katte wat op Elisenheim afgemaai word.

“Pieter Senekal, baie dankie vir jou hulp met die vastrek! Ek waardeer opreg. Net jammerte dit kan nie altwee my kinders (sic) terugbring nie.

“Ek weet nie waarheen die samelewing gaan om arme onskuldige diertjies so opsetlik te vermoor nie. My katte was my als en die skuldiges het hulle van my ontneem en vir hulle sal ek nie sommer vergewe vir die pyn wat hulle my deurgesit het en wat ek steeds in my hart dra nie,” sê ’n hartseer inwoner.

Die landgoedbestuurder, mnr. Schalk Kruger, het ’n e-pos aan alle inwoners uitgestuur waarin hy bevestig dat talle troeteldiere sedert die Covid-19-hoktyd vergiftig is en dat katte verdwyn het.

Hy het ’n lys van die voorvalle op 4 Augustus na die DBV gestuur. Kruger versoek dat inwoners onnatuurlike sterftes by die DBV by mnr. Joseph Naimhwaka by [email protected] of 081 255 5924 rapporteer; aan die CPS by me. Inger Preis by [email protected] of 081 127 9501 en aan die stadspolisie by (061) 302 302.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer