Tromp terug om Zim stryd aan te sê

Afgesien van die gedwonge vervan­ging van die beseerde Aranos Coetzee is min aan die wenspan teen Kenia getorring.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Minimale veran­deringe is aan­gebring aan Namibië se rugbyspan wat môre daarop uit is om nog 'n oorwinning teen Zimbabwe op te stapel en sodoende die Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaag­toernooi se wentrofee omhoog te hou.

Die wyse waarop kaptein Johan Deysel en sy manne laas Sondag ná 'n wankelrige eerste helfte teen Kenia totale beheer oorgeneem 'n wegholsege met 60-24 behaal het, wys dat die Namibiërs die afgelope twee weke hul huiswerk in die Wes-Kaap gedoen het om enige spinnerakke in hul samespel ná die Covid-ontwrigting sedert einde 2019 weg te vee.

Zimbabwe het laas naweek tot die vierhoekige toernooi se eind­stryd deurgedring deur eers die voorsprong op te bou, voordat Brasilië sy telling vinnig begin inhaal het om met 24-22 te eindig.

Vir môre se eindstryd is die veteraan Johann Tromp terug in die beginspan, nadat hy laas week nie in die 23-tal teen Kenia was nie. Hy vervang Lorenzo Louis wat tydens sy debuuttoets 'n netjiese systapdrie gedruk en oor die algemeen nie juis ooglopende foute begaan het nie.

Die vaskopstut Aranos Coetzee se verlies vir die volgende vier maande toe sy bisepsligament halfpad deur die eerste helfte geskeur het, het die deur geopen vir Gerhard Opperman om van die bank af vir sy toetsdebuut opgestuur te word.

Môre is Opperman, wat in die spore van sy pa Jood as Namibiese voorryman volg, in die beginspan saam met die ewe groen o.20-speler Herschell van Wyk – 'n kombinasie wat teen Kenia sterk gestaan het.

Zimbabwe kan die vier jong voorrymanne egter van nuuts af toets – insluitend Chemigan Beukes van Western Suburbs, wat op die bank inkom en sal sy toetsdebuut sal afwag.

Op haker word rotasie toegepas met Louis van der Westhuizen in die beginspan en Obert Nortjé wat reg sit om later impak te maak.

Afgesien van hierdie veranderinge het die afrigters Allister Coetzee en Pine Pienaar die kombinasies grootliks behou wat Kenia te bowe gekom het om in die tweede helfte sewe drieë sonder antwoord in te ryg.

Ondanks Zimbabwe se immer vurige landstrots en bewese geskiedenis van hoogs talentvolle rugby-individue, veg dié buurland 'n opdraande stryd om Namibië se wurggreep in toetsrugby af te skud.

Vandat Namibië in 1990 onafhanklik geword het, kon Zimbabwe nog net drie oorwinnings uit 32 toetse teen Namibië wen en die laaste keer wat dit gebeur het, was 'n volle twee dekades gelede toe Wolfie Duvenhage nog kaptein was (1996 Windhoek; 1997 Bulawayo, 2001 Harare).

Namibië se span (toetse tussen hakies):

15 Johann Tromp (45)

14 Oderich Mouton (4)

13 Johan Deysel (kaptein, 27)

12 Danco Burger (1)

11 JC Greyling (36)

10 Cliven Loubser (18)

9 Damian Stevens (28)

8 Renaldo Bothma (18)

7 Janco Venter (29)

6 Wian Conradie (20)

5 Max Katjijeko (18)

4 Pieter-Jan van Lill (54)

3 Gerhard Opperman (1)

2 Louis van der Westhuizen (22))

1 Herschell van Wyk (1)

Reserwes: 16 Obert Nortjé (20, 17 Jason Benade (5), 18 Chemigan Beukes (0), 19 Johan Retief (13), 20 Adriaan Booysen (10), 21 Helarius Kisting (14), 22 Henrique Olivier (2), 23 Lorenzo Louis (1).

FOTO’s
Namibië en Brasilië het mekaar gister vir ’n gesamentlike skrumoefensessie ontmoet. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!