Tronkstraf vir SA loervink
Tronkstraf vir SA loervink

Tronkstraf vir SA loervink

‘n Toeris wat ‘n ander toeris skelm afgeneem het terwyl sy stort, gaan ‘n jaar agter tralies deurbring.
Ronelle Rademeyer
Erwin Leuschner en Ronelle Rademeyer – ‘n 51-jarige loervink van Pretoria se vakansie in 'n luukse hotel op Swakopmund het op tronkstraf uitgeloop nadat hy beken het hy het 'n ander toeris afgeloer terwyl sy stort en steelfoto's geneem.

Gavin Booth, 'n wewenaar en pa van twee wat as uitvoerbestuurder by ’n groot maatskappy in Johannesburg werk, het saam met die 24-jarige slagoffer en haar kêrel by die Desert Sand Boutique Hotel op Swakopmund tuisgegaan toe die voorval plaasgevind het. Hulle is van Mosselbaai in Suid-Afrika en was net soos hy met vakansie in Namibië.

Booth is op 19 Maart in die landdroshof op dié kusdorp tot een jaar tronkstraf gevonnis enkele dae nadat hy skuldig bevind is aan huisbraak met die opset om ‘n ander persoon se privaatheid te skend, asook aan crimen injuria. Hy het aanvanklik die bewerings ontken, maar skuldig gepleit toe beeldmateriaal van die CCTV-kameras by die hotel aan hom gewys is.

Die video wys hoe Booth omstreeks 08:00 die betrokke dag sy hotelkamer verlaat. Hy loop in die gang by verskeie kamers verby en stop dan skielik by een van die kamers, luister vlugtig en kyk dan verskeie kere rond.

Daarna klim hy op ‘n bankie, maak die klein badkamervenstertjie oop en loer na binne.

Die volgende oomblik haal hy sy selfoon uit sy sak en begin foto’s neem.

Hy klim van die bankie af en bestudeer die inhoud van die foon. Skynbaar nie tevrede nie, klim hy weer op die bankie. Dié keer skakel hy die selfoon se flits aan voor hy weer foto’s neem.

Die flits het die jong vrou laat skrik en die video wys hoe hy skielik van die bankie afklim en in die gang af skarrel.

Kort daarna verskyn die verskrikte slagoffer met ‘n handdoek om haar lyf in die gang saam met haar ten volle geklede kêrel, wat dadelik sonder vrug na die oortreder begin soek.

Booth is op die CCTV-beeldmateriaal uitgeken en ‘n paar uur later in hegtenis geneem.

Volgens inligting het hy aanvanklik die beweringe ontken toe hy oor die gebeure gekonfronteer is. Dit is eers nadat die hotel se beeldmateriaal aan hom gewys is, dat hy erken het die voorval het plaasgevind.

Tydens sy verhoor het sy prokureur, mnr. Marinus Scholtz, die hof versoek om hom met ‘n boete te straf. Hy het betoog Booth sien as wewenaar alleen om na sy twee kinders en sal sielkundige hulp kry. “Hy verdien ‘n goeie salaris en het die slagoffer om verskoning gevra en die foto’s uitgewis,” het hy betoog.

Scholtz het bygevoeg tronkstraf sal nie ‘n gepaste vonnis wees nie.

Die staatsaanklaer, me. Latoya Katjitundu, het die slagoffer geroep om te getuig. Dié donkerkop vrou het onsteld voorgekom en aan die hof gesê sy voel “geskend”. “Ek voel skaam. Ek voel vuil en dit voel of ek iets verkeerd gedoen het, terwyl dit nie so is nie.”

Sy het verder getuig sy en haar kêrel voel sedert die voorval “onveilig” en kan nie saans met ‘n oop venster slaap nie.

“Ek voel goedkoop, want iemand het my kaal gesien wat geen reg daartoe gehad het nie. Ek wil nie hê enigiemand anders moet deurgaan wat ek deurgegaan het nie.”

Landdros Nelao Brown het tydens vonnisoplegging Booth se optrede as “ernstig en gruwelik” beskryf. “Diegene wat van plan is om so iets vir hul eie bevrediging aan te pak, as dit dan nou nie is om vir afpersing te gebruik nie, moet weet as hulle gevang word, gaan hulle nie lig daarvan afkom nie,” het Brown gesê.

Sy het hom tot 12 maande tronkstraf gevonnis, sonder die keuse van ‘n boete.

Scholtz het gister by navraag gesê 'n aansoek om verlof tot appèl teen dié fel vonnis is by die hoërhof in Windhoek ingedien. Hy sê sy kliënt is voornemens om hangende sy appèl, formeel om borgtog aansoek te doen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer