Tronkvoëls baklei teen vonnisse
Uitermate lang tronkstrawwe is verlede jaar in 'n waterskeidingsaak in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar.
Jana-Mari Smith
Minstens drie gevangenes wat dekades agter tralies moet deurbring met geen vooruitsig van vrylating nie het stappe gedoen om hul lang vonnisse te verkort.
Dít nadat dié vonnisse verlede jaar in 'n waterskeidingsaak in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar is.
In 2018 is in 'n saak tussen die staat en Gaingob beslis tronkstrawwe is wreed en onmenslik, wat 'n beskuldigde se lewensverwagting oorskry en op lewenslange vonnis met min kans op vrylating neerkom.
Namibië se korrektiewe dienste (NCS) het bevestig 52 gevangenes dien tans tronkstrawwe van tussen 41 en 50 jaar uit en 37 gevangenes moet 51 jaar en meer agter tralies deurbring.
Verlede jaar het die hooggeregshof gesê hoewel gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien ná 25 jaar vir parool in aanmerking kom, kan parool in vasgestelde vonnisse slegs oorweeg word ná twee-derdes van die vonnis reeds uitgedien is.
In die geval van tronkstraf langer as 37 en 'n half jaar sou dit beteken die vasgestelde vonnis is swaarder as 'n lewenslange vonnis.
Volgens 'n beëdigde verklaring van die prokureur-generaal se kantoor moet die dood nie die enigste hoop op vrylating vir so 'n oortreder wees nie.
Vermindering
Die woordvoerder van die kantoor van justisie, mnr. Ockert Jansen, het bevestig die hooggeregshof het twee aansoeke van gevangenes ontvang wat hul tronkstraf wil verminder.
'n Derde gevangene, Tuhafeni Kutamudi, het in Oktober die groen lig van die hooggeregshof gekry om teen sy vonnis van 85 jaar vir drie moorde te appelleer.
Hy sou eers in aanmerking vir parool kom ná hy 56 en 'n half jaar uitgedien het.
Hooggeregshofregter Orben Sibeya het in Oktober gesê verlof tot appèl word toegestaan omdat Kutamudi se vooruitsigte om te slaag, gegrond op die Gaingob-uitspraak verlede jaar, redelik is.
Die regter het benadruk die hof kan nie Kutamudi se poging teenstaan om sy vonnis te verminder tot dít wat die Grondwet toelaat nie.
Sedert die beslissing het die hooggeregshof 'n aantal briewe ontvang van gevangenes wat lang vonnisse uitdien, het Jansen gesê, maar dit kan nie verwerk word nie omdat dit nie wetlike aansoeke is nie.
Hy het gesê die regte prosedure is om 'n wetlike aansoek om verlof tot appèl deur middel van die registrateur van die hooggeregshof te bring.
Adv. John Walters, die ombudsman, sê die hooggeregshof sal die vonnisse in die meeste gevalle waarskynlik tot lewenslange tronkstraf verminder – die strengste beskikbare vonnis.
Hy het gesê gevangenes moet weet lewenslange gevangenisstraf beteken indien hulle aan die voorwaardes vir parool voldoen, sal hulle op lewenslange parool vrygelaat word.
Hy het gesê indien 'n gevangene tydens sy parool aan 'n ander misdaad skuldig bevind word, word hy of sy terug gevangenis toe gestuur met geen moontlikheid van vrylating nie.
Rehabilitasie
Onder Namibië se langste vonnisse is dié van Quinton Pieters, wat in 2015 aan 'n reeks kinderverkragtings en moord skuldig bevind is en 'n vonnis van 110 jaar opgelê is.
Jeckonia Hamukoto is in 2011 weens drie moorde tot 90 jaar tronkstraf gevonnis.
In 2011 is Ernestus Aibeb 87 jaar se tronkstraf vir die moord van twee kinders en hul tannie opgelê.
Ook in 2011 is Sylvester Beukes 105 jaar tronkstraf vir die moord van agt mense opgelê, terwyl sy broer, Gavin Beukes, tot 84 jaar gevonnis is.
Verlede jaar se hooggeregshofuitspraak het beklemtoon parool is nie vanselfsprekend nie en die nasionale paroolraad moet seker wees oortreders voldoen aan die vereistes vir parool en kan in die samelewing vrygelaat word.
Die uitspraak het gesê besonder lang vonnisse was 'n manier om te verseker gevangenes het nie 'n kans op vrylating nie.
Die NCS se adjunk-kommissaris-generaal, me. Anna-Rosa Katjivena, sê die doel van tronkstraf is nie net om te straf nie, maar ook om te rehabiliteer.
“Hoop is een van die grootste katalisators in die rehabilitasieproses. Die hoop op vrylating maak rehabilitasie moontlik. 'n Oortreder sonder hoop op vrylating sal waarskynlik nie aan programme om hulle te rehabiliteer deelneem nie.”
Sy het gesê lang tronkstrawwe plaas 'n onnodige finansiële las op die staat omdat oortreders wat 'n positiewe bydrae tot nasiebou kan lewer dít weens hul vonnisse nie kan doen nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie