Troos versus boeretroos met room
Daar is min dinge so lekker soos ’n goeie troos. Kyk ’n troos verander mos ’n mens se gemoedstoestand van onder tot heel bo. As ek sê heel bo, dan bedoel ek daar waar jy op die res van die wêreld en sy slinkshede kan staan en neerkyk.
Daar is verskillende trose, sou ek meen. Een ou verkies ’n kloppie op die skouer, die ander ou vat sy fô-baai-fô en voeter die boendoes vir ’n dag of wat binne. As hy terugkeer, kan sy gesalfde siel die samelewing weer vir ’n rukkie in die oë kyk.
Die skonergeslag is geneig om soos ’n trop skape op ’n snikhete somersdag in die Namib onder die naaste kameelboom bondel te slaan. Dit is ’n getroos en ’n gesnuif en ’n uitdelery van sneesdoekies vir die vale.
Min dinge is so geheimsinnig soos die binnekring van die henne se klandestiene samekomste. Kyk dié rariteit van Venus se persoonlikhede en agtergrond kan hemelsbreed van mekaar verskil, maar vroue beskik oor die besondere vermoë om mekaar op hul unieke manier te ondersteun. . .
G’n wonder die manne voel totaal en al uitgesluit as Ma vir ’n uur of twee elders verdwyn om ietsie saam met haar pêlle vir ’n uitgebreide geselsie te nuttig nie. Met haar terugkeer is daar weer ’n huppel in haar stap en pa kry opnuut ’n bederfie met ’n huppel in sy knuppel.
Tee in al sy gegeurde vorms is vir my net soort van oukei. ’n Goeie beker boeretroos doen vir my wondere. Die snare en snarinne wat nie ’n uitstekende beker gebroude gaat geniet nie, is vir my so droog soos ’n Weskus-bokkom daar uit Saldanha se kontrei.
En dan praat ek nie van daardie verpoeierde sigorei-gedoentes wat ten duurste in die winkels aan die niksvermoedende mensdom afgesmeer word nie. Maak nie saak wie en wat se verpoeierde konkoksie dit is nie, dit is eenvoudig nie op dieselfde topvlak as die ware Jakob nie.
Nee-nee, ek is nou in die uitgelese geselskap van keurige en 100 persent geroosterde en vars gemaalde boeretroosmoerkoffie.
Ek onthou in my kinderjare op die plaas in die Namib toe daar smôrens douvoordag koffie op die Ellis de Luxe-koolstoof in die plaaskombuis gebrou is. Dié het so ’n manier gehad om met sy aromas die pad uit die kombuis gang af te vind om snoesig teen die gewillige slagoffer se neus te gaan lê.
Eers is die vorige aand se kole in die koolstoof wakker geblaas en met fijne houtjies vir vlamme bedek. Fris kameelhoutstompe het vinnig die nodige hitte verskaf om die ou ketel se water aan die gang te kry.
Ou Sara, wat die barista was, het sonder om te wik en te weeg die perfekte hoeveelheid vars gemaalde koffie vir die oggend se boeretroos gebruik. Dié koffiebone is weekliks tydsaam in ’n swart gietysterpot op die einste Ellis de Luxe tot die volmaakte kleur gerooster en met ’n titseltjie suiker afgerond.
Om nie enige van die moerkoffie se kwaliteite te verloor nie, is net die nodige hoeveelheid geroosterde moere vir die week in die swart koffiemeul gemaal. Pa Ponie, wat die hoofaankoper van die regte bone was, het nie geduld dat daar met sy koffiekapitaal se kwaliteit gebodder word nie.
Vir my is daar net een troos en dit is ’n regte egte beker vars boeretroos om die dag mee te begin. Eintlik is ’n beker moerkoffie geskik vir enige tyd van die dag, of hoe dan nou?
Hoe jy hom drink is natuurlik jou eie keuse en voorkeur. Sommiges, soos Pa Ponie, drink hom swart met een suiker. Ander vat hom met melk en party onkundiges voeter onwetend aaklige en ongesonde poeiermelk in! Nee man!
Ek het onlangs weer die kwaliteite van vars room in my boeretroos ontdek. ’n Goeie skeut vars room plaas moerkoffie op ’n heel ander vlak én dit is gesond. Ek sou sê moerkoffie met room is die Formule 1 van alle koffies.
Hopelik is daar ’n paar manne en vroue in Namibië wat saam met my stem? Laat die boeretrooshaan koning kraai.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie