Troostelefoon
Ronelle Rademeyer - Die oggend voor tifoon Hagibis met stormsterkwinde en gietende reën vanuit die suidoostelike deel van Japan oor die Iwate-prefektuur inbeweeg, hou ons in die welige tuin van mnr. Itaru Sasaki (74) en sy vrou, Yuko (65), stil.
Hy is ’n afgetrede landskapsontwerper en noem homself die “Boomdokter”. Die Sasaki’s woon in die dorpie Otsuchi, wat naby Kamaishi in die distrik Iwate geleë is.
Toe die enorme aardbewing van 9,1 op die Richterskaal op 11 Maart 2011 naby die kus van Tohoku in die Stille Oseaan plaasgevind het, is kusdorpies in Iwate tydens die daaropvolgende tsoenami deur reusegolwe van tot 40 m hoog platgevee.
Die tsoenami ná die Groot Oos-Japan- of Tohoku-aardbewing, het volgens die Japanese nasionale polisie-agentskap tot die dood van 15 897 mense in 20 distrikte, of prefekture soos die Japannese dit noem, gelei. Altesaam 6 157 mense is beseer en 2 532 is steeds vermis.
Kamaishi, Otsuchi, Yamada en Miyako, wat digby mekaar geleë is, het die ergste deurgeloop. Nagenoeg 1 000 mense is in Kamaishi alleen dood.
Dit is hier waar Namibië vir Kanada op 13 Oktober in die Kamaishi Recovery-gedenkstadion sou aanvat. Weens tifoon Hagibis se stormskade die nag van 12 Oktover, moes die wedstryd tot groot teleurstelling van die inwoners van Kamaishi en die groter Iwate-gebied, gekanselleer word.
Die woorde “’n Drie vir die toekoms” in Japannese skrif teen ’n breekwatermuur naby die stadion, getuig van hoe belangrik die wedstryd vir die gemeenskap was. Die voorafgaande Wêreldbekerwedstryd tussen Uruguay en Fidji op 23 September, kon hulle gelukkig bywoon.
OPROEP IN DIE WIND
Ons besoek aan die Sasaki’s die oggend van 12 Oktober het nie met sy botaniese vermoëns te doen gehad nie.
Dié gryskopman met die rustige stem en sagte oë het sedert 2011 om ’n heel ander rede internasionale bekendheid verwerf.
Ná daardie noodlottige gebeurtenis het sowat 35 000 mense al in sy tuin besoek afgelê.
Die rede daarvoor?
Om in ’n telefoonhokkie in sy tuin die gehoorstuk van ’n outydse swart telefoon op te tel en ’n oproep in die wind na ’n gestorwe geliefde te maak.
Sasaki se “Kaze no Denwa” – wat “Telefoon in die Wind” beteken – het die simbool geword van hoe mense vertroosting gevind het.
Terwyl die reën in windvlae neerstuif, sit ons in ’n gesellige klein kothuis in die Sasaki’s se tuin en luister na die storie van die troostelefoon.
Sasaki gesels met ons deur Sumire Kunieda, ons tolk. Sy is die adjunkredakteur van die koerant, The Mainichi News, se buitelandse redaksie. Dit is die oudste koerant in Japan.
Kunieda het die Republikein-span vanuit Tokio na Kamaishi vergesel – om tolk te speel, maar om terselfdertyd ook vir haar koerant ’n artikel te skryf oor waarmee buitelandse besoekers hulle tussen Wêreldbekerwedstryde in Japan besig hou.
Sasaki vertel hy het in 2010 die telefoonhokkie opgerig en die troostelefoon daarin geplaas. Sy neef vir wie hy baie lief was, is in 2009 met kanker gediagnoseer. Hy is drie maande later in die ouderdom van 69 dood.
Met sy hande rustig voor hom op die tafel gevou, vertel Sasaki dit het hom vir die eerste keer werklik oor die dood en die mens se sterflikheid laat nadink.
Die Japannese is bekend vir langslewendheid en dit is nie ongewoon om 100 jaar oud te word nie.
Sasaki sê as iemand wat na aan die natuur leef, weet hy die mens kan homself transendeer na waar hy in ’n spirituele ruimte met plante en diere kommunikeer.
“Ek het ná my neef se dood besef ’n mens kan in hierdie transendentele ruimte ook met geliefdes kommunikeer wat nie meer leef nie,” het hy vertel.
Hy sê hy het die telefoonhokkie opgerig om ’n fisieke plek te skep waar mense met die ongekoppelde telefoon ’n oproep kan maak en met hulle geliefdes wat nie meer leef nie, kan gesels.
Langs die telefoon is ook ’n boek waarin mense boodskappe vir gestorwes kan skryf.
Min het hy in 2010 geweet hoeveel mense die daaropvolgende jaar in daardie omgewing sou omkom.
Sy telefoonhokkie, wat aanvanklik ’n private ruimte was, het weldra ’n troosruimte vir duisende mense geword wat na hul geliefdes verlang het en op ’n simboliese wyse vertroosting wou vind.
“Japannese toon nie emosie nie en dit word as ’n swakheid beskou om te huil,” verduidelik Sasaki en sê dit verduidelik ook waarom die troostelefoon deur soveel mense besoek word.
Enigiemand is welkom om in sy tuin ’n oproep in die wind te maak, mits hulle hom voor die tyd bel en ’n afspraak maak, sê hy.
In 2017 is Sasaki se boek “Kaze no Denwa – Daishinsai Kara Rokunen, Kaze no Denwa wo Tooshite Mieru Koto” (Die Telefoon in die Wind – Wat ek in die ses jaar ná die aardbewing geleer het ) deur Kazama Shobo in Japan uitgegee.
Verskeie joernaliste het dit die afgelope agt jaar besoek en artikels daaroor het in ’n veeltal tydskrifte en koerante wêreldwyd verskyn.
Was dit nie vir Hagibis se gietende reën nie, sou ons dalk self ’n paar oproepe in die wind gemaak het.
Dat die waardige meneer Sasaki goeie insig het in die menslike psige, is nie altemit nie.
Hy is veel meer as net ’n boomdokter.
KASSIE
Oud-Windhoeker onthou 11 Maart 2011
Die 49-jarige Anita Sasaki van Miyako (onverwant aan Otsuchi se Sasaki-egpaar) is ’n bol bruisende energie. Hoewel sy ná 20 jaar in Japan vlot Japannees praat en haar drie kinders in die Japannese kultuur grootgemaak het, verklap haar ekstrovertiese geaardheid sy is nie uit huis uit Japannees nie.
Dié oud-Windhoeker het haar hart op haar Japannese man, Toru Sasaki, verloor toe hy as op ’n Walvisbaaise krapboot as visserman gewerk het.
Toe hy 20 jaar gelede terugkeer na sy tuisdorp Miyako, het sy hom gevolg en die twee is kort daarna getroud.
Hy is steeds in die seevaartbedryf, maar werk deesdae op groot vragskepe wat vraghouers oor die See van Japan karwei. Toru en Anita het drie kinders, Yuuta (20), Yuria (18) en Kota (12). “En nee, hulle praat nie Afrikaans nie,” antwoord sy nog voor ek die vraag vra.
Anita, wat ’n nooi Buys was, sê die taal en die Japannese se eetgewoontes was destyds vir haar die grootste aanpassing. Maar ná soveel jaar uit Namibië, is sy bekeer tot sashimi en sushi en mis sy nie meer ’n gebraaide skaaptjoppie nie.
“Kan jy glo ek is die enigste Namibiër in die hele groot Japan (met sy 126 miljoen inwoners),” vertel sy. Anita besit haar eie Engelse skool waar sy vir laerskoolkinders leer Engels praat.
Sy was een van die eerste mense by die stadsraad van Miyako aangeklop het toe Iwate begin gereed maak het vir die intog van rugbytoeriste na Kamaishi vir die twee geskeduleerde Wêreldbekerwedstryde.
Anita was oorstelp van vreugde toe Republikein se Jol in Japan-span saam met ander Windhoekers by die Miyako-stasie aangekom het waar sy as tolk besoekers ingewag en welkom geheet het.
Min Japannese kan Engels praat, sê sy. “En hulle is skaam om met buitelanders te praat omdat hulle nie die taal verstaan nie.”
Terwyl ons by die Miyako-stasie gesels, beduie Anita die reusegolwe het tydens die tsoenami tot by dié deel in die sakekern van die dorp verwoesting gesaai.
Buiten die lewensverlies, is al die ondernemings in dié deel van die dorp verwoes.
“Ons woon gelukkig in 'n hoogliggende woonbuurt in die dorp en die water het nie tot by ons huis gekom nie.
“Ek sou daardie dag ingegaan het dorp toe om die afskeidsgeselligheid van ‘n vriendin wat hier Engels gegee het, by te woon. Die Here het my werklikwaar behoed en bewaar deur my te laat besluit om dit nie by te woon nie, want anders het ek dalk nie meer geleef nie.
“Dit was verskriklik. . . Alles was verwoes. Die bote het van die hawe af die strate ingeseil gekom.
“Ek het in my sitkamer voor die rekenaar gesit nadat ek net klaar die wasgoed opgehang het. Daar was eers ’n ligte aardbewing en toe die erge een.”
Sy sê omdat die meeste huise van hout gemaak is, maak mense hulle deure en vensters oop as hulle die trillings voel.
Anita sê omdat die gebied so dikwels deur aardbewings getref word, het die mense nie besef hoe erg die aardbewing was en wat die omvang van die tsoenami sou wees nie.
“Ek het uitgehardloop en na my skoonouers se huis net langs ons s’n gegaan en vir my skoonma gevra wat aangaan. Gelukkig is ons huise nie beskadig nie. My kinders was by die skool en het ook niks oorgekom nie.”
Sy sê hulle het vir ’n week lank nie water, elektrisiteit en telefoonverbinding gehad nie.
“My man se oom is een van die mense wat nooit gevind is nie,” vertel sy oor die groot getal mense wat steeds vermis word.
Op ’n vraag of sy ooit sal terugkom Namibië toe, sê Anita: “My lewe is nou hier. My ouers leef nie meer nie en buiten vir my drie susters, is daar niks meer vir my in Namibië nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie