‘Trots is die basis van al my werk’

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Hentie Burger is ‘n man wat eintlik met tande, stopsels en tange gewerk het.

Ten minste vir die eerste deel van sy lewe.

Toe op ‘n dag, in 1965, tel hy ‘n Penta-kamera op, neem ‘n foto deur ‘n ou lemoensakkie van ‘n bos blomme en iets gebeur met hom. Iets wat vir die volgende 42 jaar se foto’s sou sorg. Mettertyd het Hentie se passie ‘n verandering ondergaan, en uiteindelik het hy die binnemure van ‘n kliniese praktyk vir Namibië se rowwe natuurskoon verruil.

‘n Paar dekades en duisende foto’s later, is Hentie vandag een van die bekendste fotograwe in ons land, en het onlangs sy jongste fotografieboek, Unique Namibië, bekend gestel.

Kollig het gaan aanklop.

Hentie het in die Kaap grootgeword en tandheelkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

“Ek het in 1977 in Windhoek aangekom en vir vyf jaar as ‘n staatstandarts gewerk.”

Daarna behaal hy sy honneursgraad in gemeenskapstandheelkunde en word die hoof- staatstandarts van die destydse Suidwes-Afrika.

Intussen stig hy een van die eerste privaatgroepspraktyke in Windhoek saam met drs. Shier en Erlank.

Maar Hentie se liefde vir fotografie was soos ‘n hondjie wat agter ‘n toe deur aanhoudend blaf. Hy moes aandag daaraan gee, anders sou die geraas in sy kop nooit stil word nie.

“Ná vyf jaar het ek bedank en vir ‘n jaar in Botswana en Zimbabwe gaan foto’s neem.”

Dit was toe dat fotografie-hondjie hom op sy wysvinger byt, maar weens ander uitdagings kon hy nie voltyds foto’s neem nie.

Hentie keer terug na die Stellenbosch en voltooi sy derde graad in tandheelkunde, met spesialisering in ortodonsie.

“Ná kwalifisering is ek en my vrou, Hilda-Marie, vir 'n jaar op reis deur Afrika.”

Hentie begin al hoe meer foto’s neem.

Die egpaar toer van Kaapstad tot Senegel met hul “nuwe Namibiese paspoorte”.

In 1992 maak hy sy eie praktyk oop.

“Ek het net deeltyds gewerk sodat ek die ander helfte van die tyd vir my fotografie kon gebruik.”

Vir die volgende 20 jaar van sy lewe het sy roetine ‘n anderste orde gekry. Iets wat nie baie konvensioneel was nie.

Vir drie weke op ‘n slag het hy met steke, stopsels en drade te doen.

“En dan vir drie weke is ek weer met my fotografie in die veld doenig.”

Hoewel dit vir ‘n wyle gewerk het, het Hentie geweet hy gaan nie van sy passie kan weghardloop nie.

Tien jaar gelede tree hy af “en werk voltyds as onafhanklike fotograaf”.

Sy oog vir fotografie is deur sy reise gestimuleer.

“Ek het ons reise gedokumenteer. Daarna wildfotografie eksklusief vir ongeveer tien jaar gedoen, voordat ek my net wyer gespan het om alle moontlike aspekte van Namibië in my portefeulje in te sluit.”

Dit was vir hom belangrik om sy kuns sonder riglyne of beperkings toe te pas.

“Ek wil nie in ‘n boks gedruk word nie. Jy werk met wat jy by jou het, maar sonder visie en opwindende denke kan jy nie vorder nie.”

Dis duidelik in sy foto’s te sien. Dis anders. Soort van abstrak, maar ook nie. Baie aantreklik. Hy verduidelik dis die kleiner details wat fotograwe raaksien wat ander partykeer miskyk.

“Ek beskou myself as ‘n vrydenkende fotograaf,” sê Hentie, “en ek spesialiseer in alles wat Namibië bied.”

En Namibië beskik 'n magdom fotografie-oomblikke: Die natuur, geologie, flora, fauna, abstrakte tonele en kulture.

Vir iemand wat geen formele fotografieopleiding het nie, het Hentie besonders baie vermag.

“Ek was oor die jare blootgestel aan ‘n paar internasionale mentors wat elk ‘n groot rol in my denkproses en tegniese vaardighede gespeel het.”

Hy maak deesdae gebruik van die internet om sy kennis te verbreed en sy “probleme op te los.”

‘n Uitdaging vir hom as fotograaf is om objektief na sy werk te kyk.

Met die ontwikkeling van redigeringsagteware, wat die plek van die donkerkamer inneem, maak hy gereeld gebruik van byvoorbeeld Photoshop en dies meer om sy werk te redigeer.

“Al my huidige foto’s word in RAW-formaat geneem en vereis dus in elk geval sagteware om dit te lees en te verwerk. My werksvloei behels dat al my foto’s, analoog of digitaal, verwerk word. Eers in Camera Raw (Photoshop) vir basiese redigering, waarna meer gespesialiseerde redigering in ‘n ander program, Nik, gedoen word. Die finale fyn verstellings word in Photoshop gedoen.”

Hoewel Hentie se werk merendeels oor die natuur handel, is hy tans besig om sy kans te waag met composite-werke (die kombinasie van foto's om een beeld te skep). Die werke het almal ‘n politiese en sosiale boodskap. Hy het ‘n voorliefde vir swart-en-wit foto’s.

“Dis ‘n uitstekende opsie vir kulturele werk waar kleur soms steurend in veral die agtergrond kan wees. Swart en wit kan ook goed ingespan word vir dekor, indien daar ‘n enkele kleur by die swart-en-wit foto gevoeg word.”

Deur die jare is Hentie deur verskeie ander kunstenaars beïnvloed.

“Ek het baie waardering vir Cocky Hahn se werk in Owamboland en Alice Mertens, beide twee Namibiese fotograwe.”

Op ‘n internasionale vlak het hy groot waardering vir Peter Beard se onkonvensionele dokumentering van die koloniale leefstyl en slagting van olifante in Kenia (The End of the Game).

“Meer hedendaags geniet ek Caroline Gibello van Suid-Afrika se werk, veral haar boek Water and Dust.”

Hentie se werk het al galerymure oraloor die wêreld besoek.

“Ek het al in die verlede uistallings is Duitsland en Engeland gehou, maar die laaste 20 jaar het ek my eie klein gallery, Foto Namibia, in die Craft Centre in Windhoek bedryf waar ek my kan uitleef sonder enige beperkinge van ander partye.”

Dis nou teen die einde van sy loopbaan waar hy weer by ander organisasies betrokke raak.

“Veral by Namibia Art Association (NAA) se groepuitstallings. Dis pret en leersaam, en ek is minder bekommerd oor die kommersiële deel. Ek word gestimuleer deur uitdagende uitstallingtemas en moet my denkproses en redigeringtegnieke daarvoor aanpas.”

Baie mense sê fotografie bestaan uit ‘n mate van geluk.

“Die hoeveelheid tyd wat jy daaraan spandeer, is belangriker, asook die diepte of verskeidenheid van onderwerpe waaraan jy werk. Hoe meer onderwerpe jy dek, hoe wyer is jou visie en herkenning van moontlike insidente om te fotografeer. Vernuwe jouself elke paar jaar wat tegniek en belangstellingsveld betref.”

DIE UNIEKE NAMIBIË

Unique Namibie gaan grootendeels oor Hentie se loopbaan van 42 jaar.

Hentie was al by verskeie publikasies betrokke en het self al ander titels uitgegee, maar Unique Namibië is volgens hom “die groot ene”.

“Ek het die foto’s vir twee van Antoinette de Chavonnes Vrugt se kookboeke geneem, My Hungry Heart en Llife on a Table”.

Beide publikasies het internasionale Gourmand-toekennings verorwer.

In 2016 stel Hentie Namibia Panorama bekend wat in Duits, Engels en Frans gepubliseer is. Daarna word ‘n tweede oplaag in Chinees, Spaans en Italiaans gedruk.

“En nou onlangs, vandeesmaand, my groot een, Namibie Unique.”

Die titel van die boek kom met ‘n storie, soos die meeste kunstenaars se kuns maar doen.

“Ek het die afgelope jare aan drie boekprojekte tegelyk gewerk. My eerste boekprojek, Namibia: Any Road Will Do, is gedurig uitgestel deur nuwe boekidees en is nog steeds nie afgehandel nie.”

Sy portfolio bestaan tans uit ongeveer 200 000 foto’s en dit kan nie 'n maklike taak wees om dit uit te sorteer nie.

“As jy deur hulle begin werk, besef mens hoeveel unieke ervarings mens in Namibië geniet en ook hoeveel unieke insidente ek slegs eenmalig beleef het oor ‘n 42 jaar periode.”

Dit was uiteraard die mees geskikte titel, weens die uniekheid van ons land en die inhoud van die foto’s.

Om ‘n publikasie van die aard bymekaar te sit, is nie ‘n sommerso projek nie. Dit behels noukeurige besluite.

“Al die foto’s het dieselfde digtheid, minimale kleur, mate van high key, mate van outydse donkerkamer-bleiking. Dit was vir my tegnies uitdagend om al hierdie fotos te redigeer om hierdie effek te verkry, veral omdat die foto’s mens en dier dek.”

Die ontwerpersgroep Turipamwe Design Agency het betrokke geraak by die kreatiewe aspekte van Unique Namibia.

“Ek was uiters gelukkig om kontak te maak met ‘n jong en baie talentvolle ontwerpersgroep wat net so opgewonde was oor die projek. My foto’s versinnebeeld my unieke visuele song lines van Namibië, soortgelyk aan die Aborigines se song lines wat later ‘n kaart van Australië gevorm het.”

Die Turipamwe-span het volgens Hentie die twee konsepte van minimalisme en song lines baie goed en artisties in die ontwerp ingevleg.

Die boek beskik oor ‘n groot persoonlike waarde vir die oudtandarts.

“Die boek is tot ‘n mate ‘n nalatenskap van my tyd in Namibië, maar terselftertyd ‘n groot aansporing om Namibia Any Road-projek aan te pak, in ‘n meer filosofiese styl en in gedrukte formaat te kry.”

“Die boek dek die basiese hierargie van lewe: Begin met geologie, dan klimaatsveranderinge, unieke fauna en flora, en dan die mense.”

Ten laaste, verduidelik hy, het die luukse om Namibië met al ons sintuie te ervaar ook ‘n groot rol in die boek gespeel.

“Ons kan die kuns in die natuur sien, ons kan reën ruik, ons kan die kliekgeluide van die Boesmans hoor. Ek dink ook ons vergeet hoe uniek ons as Namibiërs is.”

Unique Namibia is onlangs in die hoofstad bekendgestel.

“Die Windhoek-bekendstelling was in ‘n ondergrondse parkeergarage van PointBreak. Dit was ‘n feestelike byeenkoms (oftewel ‘n moerse partytjie) wat eers in die oggendure tot ‘n einde gekom het. Die bekendstelling wat gevolg het, was by Die Muschel in Swakopmund waar die geleentheid met ‘n klein foto-uitstalling in hul gallery aangevul is.” Unique Namibie is by meeste boekwinkels in Windhoek en op Swakopmund beskikbaar.

Die terugvoer wat hy tot dusver ontvang het, was positief.

“Die verkope was ook baie goed. Ek het dit baie geniet, maar nou is my bande eers bietjie pap.”

“Daar is dalk ‘n moontlikheid dat ek volgende jaar ‘n lesing sal gee by die Wetenskaplike Vereniging oor hoe ons die boek aanmekaar gesit het: Die denkproses, die geselekteerde foto’s, die teksvoorskrifte en die stories agter die fotos.”

As daar een iets is waaroor sy werk beskik, is dit vir seker selftrots.

“Trots is die basis vir al my werk. ‘n Gebrek aan trots in die kwaliteit van jou produk is myns insiens ‘n belediging aan die publiek, wat jou potensiële klient is. Die ‘gevoel’ is een van dankbaarheid dat jare se malende idees nou vasgevang is.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!