Trump afwesig by Paryse Vredesforum
Trump afwesig by Paryse Vredesforum

Trump afwesig by Paryse Vredesforum

Pres. Donald Trump van Amerika het geskitter in sy afwesigheid op 'n forum in Parys, Frankryk, wat deel vorm van die 100 jaar-herdenking van die vredesooreenkoms van die Eerste Wêreldoorlog.

Trump het Sondag met Air Force One teruggevlieg Washington toe kort nadat die Paryse Vredesforum begin het.

Leiers van Duitsland en ­Frankryk het daar vir 'n verenigde benadering gevra om wêreldvrede te ­bewerkstellig.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, en die Franse president, Emmanuel Macron, het hande gehou nadat hulle boeke afgegee het by die Vredesbiblioteek in Parys.

Merkel het die forum geopen nadat 'n seremonie in die Franse hoofstad plaasgevind het. Sy het gewaarsku dat nasionalisme weer aanklank onder sekeres in Europa en ander wêrelddele vind.

Volgens haar is dit kommerwekkend dat sommiges gereed is om hul eie belange te bevorder ten koste van bande wat vrede sedert die Tweede Wêreldoorlog bewaar.

“Meeste van vandag se uitdagings kan nie deur slegs een nasie opgelos word nie, maar saam. Indien ­isolasie 100 jaar gelede nie die oplossing was nie, hoe kan dit die oplossing in vandag se ­verbonde wêreld wees?” het Merkel gevra.

Macron, wat ook gepraat het, hoop die forum kan help dat daar nie in die slaggate van die verlede getrap word nie deur groter samewerking tussen lande te bevorder.

Van die kwessies waaroor hy gepraat het, was onder meer anti-­Semitisme, kwessies wat die ­omgewing raak en Islamitiese ­militarisme.

Leiers wat daar was om na Merkel, Macron en António Guterres, ­sekretaris van die Verenigde Nasies, te luister, was onder andere pres. Wladimir Poetin van Rusland en sy Turkse ampsgenoot, pres. Tayyip Erdogan.

Justin Vaïsse, wat die forum gereël het, het aan Reuters gesê die forum se doel is nie veronderstel om wêreldprobleme op te los nie, maar eerder om groter same­werking tussen organisasies van verskeie lande te bewerkstellig.



NOG 'N VERSKONING

Pres. Trump se besluit om ook 'n geleentheid Saterdag ter nagedagtenis aan gesneuwelde ­Amerikaanse soldate in Frankryk weens reën nie by te woon nie, het hom skerp kritiek op die hals gehaal.

Trump moes 'n geleentheid in die Amerikaanse begraafplaas in Aisne-­Marne in Bellou bywoon, maar het sy beplande besoek op die nippertjie gekanselleer, glo omdat sy helikopter nie in die ligte reën en wolke kon vlieg nie.

Volgens Withuis-amptenare kon daar nie op die laaste oomblik reë­lings getref word om die president per motor na die begraafplaas naby Parys te neem nie.

Die ligte reën het nie pres. Emma­nuel Macron van Frankryk en Angela Merkel, die Duitse kanselier, verhinder om die geleentheid by te woon nie.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!