Trump begin met isolasie van die nasie
Trump begin met isolasie van die nasie

Trump begin met isolasie van die nasie

Die Amerikaanse president Donald Trump het streng beperkings op immigrasie van Irak, Iran, Soedan, Libië, Somalië en Jemen geplaas, terwyl vlugtelinge uit dié lande vir die volgende drie maande nie Amerika mag binnekom nie.
Henriette Lamprecht
Elaine Swanepoel - Pres. Donald Trump van die VSA het Vrydag die maatreëls waarvolgens vlugtelinge uit sewe lande in die VSA toegelaat word, dras­ties verskerp.

Dié lande het almal 'n meerderheid Moslem-inwoners en Trump sê strenger maatreëls is nodig om “radikale Islamitiese terroriste” uit die land te hou. “Ons wil hulle [radikale Islamitiese terroriste] nie hier hê nie.”

Trump se nuwe vlugteling-en-immigrasiebevel behels dat die Amerikaanse vlugtelingtoelatingsprogram vir 120 dae opgeskort word.

Die toelating van vlugtelinge uit Sirië is onbepaald opgeskort totdat die president meen die keuringsproses van vlugtelinge is streng genoeg om Amerika se veiligheid te verseker.

Die bevel plaas ook streng beperkings op immigrasie van Irak, Iran, Soedan, Libië, Somalië en Jemen en vlugtelinge uit dié lande mag vir die volgende drie maande nie die land binnekom nie, berig Associated Press.

Trump het die getal vlugtelinge wat vanjaar in Amerika toegelaat sal word tot 50 000 beperk.

Trump het in sy eerste week as president 14 amptelike presidensiële bevele onderteken. Die bevele is onmiddellik van krag en het chaos gesaai onder vlugtelinge wat reeds op pad was na Amerika, berig Reuters.

Hoewel dit nie noodwendig meer as sy voorgangers is nie, is baie van sy opdragte veel meer ambisieus. Dié bevele is nie wet nie, maar het die status van presidensiële opdragte wat amptenare lei in hul toepassing van die wet.

Trump het onder meer 'n bevel onderteken wat sê die Withuis beplan om Obamacare, oudpres. Barack Obama se wet op staatsgefinansierde gesondheidsorg, te herroep.

Hy het Vrydag ook 'n uitvoerende bevel onderteken om die heropbou van die Amerikaanse weermag te begin en nuwe hulpbronne vir “ons mans en vroue in uniform” beskikbaar te stel.

“Niemand sal ons militêre mag bevraagteken nie. Maar ons sal ons steeds vir vrede beywer,” sê Trump.

Kritici sê Trump se verbod op vlugtelinge uit sommige Midde-Oosterse lande illustreer sy eie belangebotsing in die streek omdat hy geen stappe doen teen enige van die Midde-Oosterse lande waar hy self sake doen nie.

Volgens Bloomberg het The Trump Organization, waarvan Trump steeds die grootste aandeelhouer is, sakebelange in bykans 20 lande, waaronder die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Turkye, Saoedi-Arabië en Egipte.

Daar is egter geen beperkings op reise na Amerika vir die burgers van dié lande nie, al is die lande se burgers voorheen verbind met die 9/11-aanval op Amerika, óf met sakebande met die terreurgroep Isis.

Ná 'n ontmoeting met Theresa May, Britse premier, het die twee leiers te kenne gegee dat Amerika steeds ten volle agter Navo staan, die Amerikaans-Europese verdedigingsverdrag wat reeds sedert kort na die Tweede Wêreldoorlog bestaan.

Terwyl Trump uit baie oorde onder kritiek deurgeloop het oor sy immigrasiemaatreëls, is hy geprys vir die meer gematigde houding wat hy teenoor ­Navo ingeneem het.

- Netwerk 24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!