Trump-besluit wyd gekritiseer
Trump-besluit wyd gekritiseer

Trump-besluit wyd gekritiseer

Vrese heers dat Amerika se onttrekking aan 'n belangrike kernwapenooreenkoms met Iran dié land gaan terugplaas op 'n pad van kernwapenontwikkeling.
Lande wat 'n belangrike kernwapenooreenkoms met Iran saam met die VSA onderteken het, het Woensdag geskarrel om dit te red nadat pres. Donald Trump aangekondig het sy land onttrek hom daaraan.

Hy sê die ooreenkoms, wat een van die diplomatieke hoogtepunte van oudpres. Barack Obama se termyn was, moes “nooit, ooit” onderteken gewees het nie.

“Dit het nie kalmte gebring nie. Dit het nie vrede gebring nie. En dit sal nooit nie,” sê Trump.

Hy sê streng nuwe sanksies gaan ingestel word en rig ook 'n waarskuwing: “Enige nasie wat Iran in sy soeke na kernwapens help, kan swaar deur die VSA gestraf word.”

Die 2015-ooreenkoms het sanksies teen Iran opgeskort in ruil vir die staking van sy kernwapenprogram. Die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Rusland en China het dit onderskryf.

Die drie Europese lande het onderneem om die ooreenkoms te laat slaag. Rusland en China het ook hul voortgesette steun daaraan bevestig.

“Die ooreenkoms is nie dood nie,” sê Jean-Yves Le Drian, die Franse minister van buitelandse sake, volgens Reuters.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Woensdag sy Iranse ampsgenoot, pres. Hassan Roehani, oor die saak gekontak.

Heiko Maas, Duitsland se minister van buitelandse sake, het in Berlyn gesê hulle sal nie die ooreenkoms “in die steek laat” nie.

Roehani het reeds vroeër gesê hy het sy departement van buitelandse sake opdrag gegee om met Rusland en China te onderhandel, berig BBC.

“As ons die ooreenkoms se doelwitte in samewerking met die ander lede van die ooreenkoms bereik, sal dit voortgaan,” is sy gerusstellende woorde.

Roehani sê dat dit nie 'n bi­laterale ooreenkoms tussen die VSA en Iran was nie, maar eerder 'n multilaterale inter­nasionale ooreenkoms wat deur die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad onderskryf is.

Die land kon vanweë die ooreenkoms vanaf 2016 weer sy olie op die internasionale mark verkoop – iets wat nou weer in die gedrang kan wees.

Volgens die BBC sê Rusland se departement van buitelandse sake die land is “diep teleurgesteld” oor Trump se besluit.

Federica Mogherini van die Europese Unie (EU) sê ook die EU is “vasbeslote om die ooreenkoms te eerbiedig”.

Oudpres. Barack Obama veroordeel ook Trump se besluit. “Deur weg te stap van 'n ooreenkoms in 'n tyd waarin ons almal diplomasie met Noord-Korea aanmoedig, loop ons die risiko om 'n ooreenkoms te verloor wat dieselfde uiteinde (met Iran) kan oplewer as wat ons graag met Noord-Korea wil sien,” het hy aan CNN gesê.

Joe Biden, voormalige adjunkpresident, sê Trump se besluit is “'n verskriklike fout” en dat dit Iran kan terugplaas op die pad na kernwapenontwikkeling sonder 'n diplomatieke oplossing.

“Hierdie onnodige krisis wat ons terugsit op 'n pad van oorlog met Iran kan die veiligheid van ons land en ons landgenote in die gedrang bring,” het Biden aan CNN gesê.

Onversetlikes in Iran het die VSA se onttrekking verwelkom.

Mohammad Ali Jafari, die bevelvoerder van die Revolu­sionêre Wagte, het sy eie land “gelukgewens”, berig The Guardian.

Lede van die Iranse parlement het voor Woensdag se sitting Amerikaanse vlae en afdrukke van die 2015-ooreenkoms aan die brand gesteek en geskree: “Die dood vir die VSA!” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!